Jakobus 2:1-26

Jakobus 2:1-26 AFR20

My broers, julle geloof in ons Here Jesus •Christus, die Here van die heerlikheid, moet so wees dat julle nie iemand na die uiterlike beoordeel nie. As daar 'n man met goue ringe en pragtige klere by julle samekoms aankom, en daar kom ook 'n arm man met vuil klere aan, en julle kyk na die een met die pragtige klere en sê, “Sit u hier op 'n goeie plek,” en vir die arm man sê julle, “Staan jy daar!” of, “Sit jy hier onder by my voetbank!” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak, en regters met slegte oorwegings geword nie? Luister, my geliefde broers, het God nie die armes in die wêreld gekies om ryk in die geloof te wees nie? En om erfgename te wees van die koninkryk wat Hy beloof het aan hulle wat Hom liefhet nie? Maar julle het die arme oneer aangedoen. Is dit dan nie die rykes wat julle uitbuit, en is dit nie hulle wat julle voor die gereg sleep nie? Is dit nie hulle wat die goeie Naam belaster wat oor julle uitgeroep is nie? As julle wel die koninklike wet vervul, volgens die Skrif, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself,” doen julle goed. As julle egter mense volgens hulle uiterlike beoordeel, doen julle sonde, en word julle deur die wet as oortreders aan die kaak gestel. Want wie die hele wet probeer onderhou, maar een wet oortree, is aan almal skuldig. Want Hy wat gesê het, “Jy mag nie egbreuk pleeg nie,” het ook gesê: “Jy mag nie moord pleeg nie.” As jy dus nie egbreuk pleeg nie, maar wel moord pleeg, is jy 'n oortreder van die wet. Praat so, en tree so op, asof julle deur die wet van vryheid geoordeel gaan word. Die oordeel is immers sonder ontferming oor hulle wat nie ontferming betoon het nie. Ontferming triomfeer oor die oordeel. Wat baat dit, my broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie? Dié geloof kan hom tog nie verlos nie? As 'n broer of 'n suster sonder klere en daaglikse kos is, en een van julle sê vir hulle, “Gaan in vrede, word warm en word versadig,” maar julle gee nie vir hulle wat die liggaam nodig het nie, wat help dit? So is geloof alleen, as dit nie op dade uitloop nie, dood. Maar as iemand sê, “Jy het geloof en ek het dade,” wys dan vir my jou geloof sonder dade, en ek sal jou uit my dade my geloof wys. Glo jy dat God Een is? Goed so. Ook die demone glo dit, en hulle bewe. Wil jy weet, o nietige mens, dat geloof sonder dade nutteloos is? Is Abraham, ons vader, nie op grond van sy dade regverdig verklaar, omdat hy sy seun Isak op die altaar geplaas het nie? Kan jy sien dat die geloof meegewerk het met sy dade, en dat vanuit die dade die geloof volkome geword het? En die Skrif is vervul wat sê: “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken, en hy is 'n vriend van God genoem. ” Julle sien dus dat 'n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie. Is Ragab, die prostituut, nie ook net so op grond van dade regverdig verklaar, toe sy die boodskappers gasvry ontvang en met 'n ander pad weggestuur het nie? Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.