KLAAGLIEDERE 3:1-30

KLAAGLIEDERE 3:1-30 NLV

Ek is die man wat ellende ervaar het toe die HERE kwaad was. Hy het my na ’n plek gejaag waar daar geen lig is nie. Hy het teen my gedraai. Sy hand is dag en nag teen my. Hy het my laat uitteer. Ek het net vel en been geword. Hy het die gebeente van my liggaam gebreek. Hy het my omsingel en my met swaarkry en lyding omring. In ’n donker plek het Hy my gaan wegsit soos iemand wat lankal dood is. Hy het my ingehok en met swaar kettings geboei sodat ek nie kon uitkom nie. Wanneer ek bid en smeek vir hulp, ignoreer Hy my gebed. Hy pak my pad toe met klippe, Hy laat my ompaaie loop. Hy is soos ’n beer wat my voorlê, soos ’n leeu wat vir my lê en wag. Hy het my uit die pad gesleep, my uitmekaargeskeur en my net so daar laat lê. Hy het ’n pyl in sy boog gespan en sekuur na my gekorrel. Hy het sy houer met pyle op my leeggeskiet. My eie mense lag vir my. Hulle sing heeldag spotliedjies oor my. Hy het my vol gemaak met bitter dinge. Hy laat my bitterheid drink. Hy laat my klippe kou. Hy trap my weg in die grond. Ek het al vergeet hoe dit is om gelukkig en voorspoedig te wees. Ek roep uit: “Ek beteken niks. Ek verwag niks meer van die HERE nie.” Wanneer ek aan my pyn en my hartseer dink, word ek bitter. Ek sal nooit ooit vergeet van hierdie slegte tyd nie. Tog is daar een ding waarop ek kan reken en waarop ek altyd sal hoop: Deur die HERE se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy genade het geen einde nie. Op u ontferming kan ’n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut. Ek sê vir myself: “My lewe behoort aan die HERE. Daarom vertrou ek op Hom.” Die HERE is goed vir hulle wat op Hom wag en Hom soek. Dit is goed om geduldig te wag totdat die HERE ons red. Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die HERE te wag. Mense moet geduldig sit en wag totdat die HERE aandag aan hulle gee. Daar is hoop vir jou as jy stilbly. Draai jou ander wang wanneer jou vyande jou beledig.

Gratis leesplanne en oordenkings oor KLAAGLIEDERE 3:1-30