Klaagliedere 3:1-30

Klaagliedere 3:1-30 DB

Ek is die man wat ervaar het hoe seer dit is as die Here jou slaan omdat Hy vir jou kwaad is. Hy het my weggejaag na ’n baie donker plek toe. Hy het nie opgehou om my te slaan nie. Hy het my skouers laat hang en my knieë laat knak. Hy het my met swaarkry en lyding in ’n hoek vasgedruk. Hy laat my voel asof ek wil doodgaan. Dis of ek al klaar dood is. Hy het my toegesluit. Hy het my met swaar kettings geboei sodat ek nie kan uitkom nie. Hy luister nie eens wanneer ek bid nie, al roep ek ook hoe hard. Hy maak my paaie met groot klippe toe sodat ek langs ompaaie moet loop. Hy is soos ’n beer wat my voorlê, ’n leeu wat my lê en inwag. Hy het my uit die pad uit gesleep, my uitmekaargeskeur en my net so daar laat lê. Hy het die pyl in sy boog gespan. Hy het van my die teiken gemaak waarna Hy met sy pyle skiet. Hy het sy pylkoker op my leeggemaak met al die pyle wat Hy op my afgeskiet het. My volk lag vir my en maak aanmekaar spotliedjies oor my. Hy laat my bitter dinge sluk tot ek nie meer kan nie. Hy maak dit galbitter vir my. Hy het my in die grond in getrap. Ek het geval en my tande teen die klippe gebreek. Ek het vergeet hoe dit is om gelukkig en tevrede te wees. Al my vertroue is weg. Ek verwag niks meer van die Here nie. Ek word bitter wanneer ek aan my pyn en hartseer dink. My hart krimp inmekaar wanneer ek so oor alles dink. Maar daar is een ding wat my weer hoop laat kry: die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar. Hy het gekeer dat ons heeltemal uitgewis is. ’n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar. Ek sê vir myself: “Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe.” Die Here is baie goed vir elkeen wat wil doen wat Hy vra en elkeen wat op Hom hoop. Dit is goed om geduldig te wag vir die Here om ons te red. Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die Here te wag. Iemand moet geduldig wees as daar van hom verwag word om stil te wees en te wag. Daar is vir hom nog hoop as hy tjoepstil bly. Hy moet maar sy trots sluk wanneer hulle hom beledig. Hy moet maar die ander wang ook na hulle toe draai.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Klaagliedere 3:1-30