KLAAGLIEDERE 3:1-30

KLAAGLIEDERE 3:1-30 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan. Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op 'n pad sonder lig. Vir my stoot Hy gedurig weg, dag na dag. Hy het my hele liggaam laat wegteer, my bene gebreek. Hy het my toegebou met 'n muur van gif en ontbering rondom my. Hy maak die donker my tuiste, ek is soos dié wat lankal dood is. Hy het 'n muur om my gebou, ek kan nie uitkom nie, Hy het vir my swaar bronskettings aangesit. Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor. Hy het my pad met klip toegebou, vir my geen uitkomplek gelaat nie. Hy is soos 'n beer wat my inwag, soos 'n leeu wat my voorlê, Hy het my eenkant toe gekeer en verskeur, my vermink laat lê. Hy het sy boog gespan en my 'n teiken vir sy pyle gemaak. Hy het sy pyle diep in my liggaam ingeskiet. Ek word uitgelag deur my hele volk, hulle sing heeldag spotliedjies oor my. Hy het my bitter dinge laat sluk, die lewe vir my galbitter gemaak. Hy het my gruisklip laat kou, my in die grond getrap. Hy het alle rus van my af weggeneem; ek het al vergeet van voorspoed. Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig – miskien is daar hoop – laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.

KLAAGLIEDERE 3:1-30 Bybel vir almal (ABA)

Dit is met mý wat dit sleg gegaan het, want die Here was kwaad en Hy het my gestraf. Ek het gevoel Hy jaag my en Hy bring my in 'n donker plek waar daar nie lig is nie. Dit is net vir my wat Hy aanhou slaan, elke dag. Hy het my vleis en my vel heeltemal droog laat word en Hy het die bene in my liggaam gebreek. Hy het 'n muur om my gebou, Hy het my lewe bitter gemaak, Hy het my laat swaarkry. Hy het my laat woon in die donker, soos mense wat lank gelede dood is. Hy het 'n muur rondom my gebou sodat ek nie kan uitkom nie. Hy het my vasgebind met swaar kettings. Hy wil nie hoor wat ek bid nie, Hy luister ook nie wanneer ek skree en bid en vra dat Hy my moet help nie. Hy het my pad toegebou met klippe, Hy het my op 'n ander pad laat loop. Hy is soos 'n beer wat lê en wag om my te vang, soos 'n leeu wat stilletjies na my toe kruip. Hy het my uit die pad gesleep, Hy het my liggaam stukkend geskeur en my daar laat lê. Hy het sy pyl geneem en Hy het sy boog se snaar styfgetrek want Hy wou my skiet. Hy het sy pyle in my lewer ingeskiet. Al my mense lag vir my, hulle sing oor my en spot vir my, die hele dag lank. Hy het my lewe baie moeilik en bitter gemaak, dit was soos wanneer ek wilde-als geëet het. Hy het my klippies laat kou, sodat my tande gebreek het. Hy het my plat getrap op 'n ashoop. Daar is niks vrede in my lewe nie, ek weet nie meer hoe dit voel wanneer dit goed gaan nie. En ek sê: Ek twyfel oor alles, ek hoop nie meer dat die Here my sal my help nie. Here, U moet onthou dat ek swaarkry, en dat ek nêrens 'n plek het waar ek kan woon nie. Wanneer ek daaraan dink, dan is dit vir my soos wilde-als en gif. Wanneer ek daaraan dink en dink, dan word ek moedeloos. Een ding weet ek, en dit is seker, en daarom sal ek aanhou hoop: Die Here doen altyd wat Hy belowe het, Hy is altyd jammer vir mense wat swaarkry. Here, U doen dit elke nuwe oggend, U bly altyd dieselfde. Ek sê: Die Here is alles wat ek het, daarom sal ek aanhou hoop. Die Here is goed vir mense wat glo dat Hy hulle sal help, vir mense wat naby Hom wil wees. Dit is goed om stil te bly en te glo dat die Here jou sal red. Dit is goed wanneer iemand 'n juk moes dra toe hy jonk was, wanneer hy alleen moes sit en moes stilbly omdat die Here die juk op hom gesit het. Dit is goed wanneer iemand met sy gesig op die grond moet lê. Miskien kan hy hoop dat iets goed sal gebeur. Dit is goed wanneer iemand sy wang draai na die persoon toe wat hom wil klap, dit is goed wanneer hy aanhou toelaat dat mense hom spot.

KLAAGLIEDERE 3:1-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Alef. EK is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid. My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig. Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my. Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek. Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite. Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is. Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak. Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord. Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak. Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke. Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak. Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel. He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan. Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag. Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wildeals laat drink. Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk. En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet. Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE. Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wildeals en die gif. As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my. Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop: Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE. Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het. Laat hy sy mond in die stof steek — miskien is daar hoop! Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.

KLAAGLIEDERE 3:1-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ek is die man wat ellende beleef het deur die slae van die HERE se gramskap. Hy het my gedryf, my in die donker laat loop, sonder lig. Ja, Hy het sy hand teen my gelig, telkens weer, die hele dag. Hy het my vleis en vel verteer, my bene gebreek. Hy het my beleër, my omring met bitterheid en moeite. Hy het my in donker plekke laat bly soos dié wat lankal dood is. Hy het 'n muur rondom my gebou, uitkom kan ek nie; Hy het my boeie van brons swaar gemaak. Selfs al skree ek en roep om hulp, sluit Hy Hom af vir my gebed. Met gekapte klip het Hy my pad toegebou, Hy het my paaie laat kronkel. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke. Hy het my paaie verlê, my braak laat lê, my 'n woesteny gemaak. Hy het sy boog gespan, my as teiken opgestel vir die pyl. Die pyle uit sy koker het Hy in my niere laat indring. Ek word uitgelag deur al my mense; hulle spotlied klink heeldag op. Met bitter kruie het Hy my versadig, my in oormaat wildeals laat drink. Hy het my tande op gruis laat afslyt; Hy het my in die as vertrap. Vrede is my ontneem, die goeie het ek vergeet. Ek het gesê: My toekoms en my hoop op die HERE het verdwyn. Dink aan my nood en my swerwersbestaan, aan die wildeals en gif. Wanneer ek diep daaroor nadink, raak ek terneergedruk. Dít roep ek in herinnering, daarom het ek hoop: Dit is deur die troue liefde van die HERE dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die HERE, sê ek; daarom hoop ek op Hom. Goed is die HERE vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek. Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die HERE. Goed is dit vir 'n jong man om 'n juk in sy jeug te dra. Hy moet alleen sit in stilte, want die HERE het dit op hom gelê. Hy moet maar sy gesig in die stof hou; miskien is daar hoop. Hy moet sy wang draai na dié wat hom slaan; laat hy versadig word van skande.

KLAAGLIEDERE 3:1-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy toorn. Hy het my gelei en my in die duisternis gebring, maar nie in die lig nie. Waarlik, hy het hom teen my gedraai; hy draai die hele dag sy hand teen my. My vlees en my vel het Hy verouder; hy het my gebeente gebreek. Hy het teen my gebou en my omsingel met gal en moeite. Hy het my in donker plekke gestel soos die wat van ouds af dood is. Hy het my omhein, dat ek nie kan uitkom nie; Hy het my ketting swaar gemaak. Ook as ek roep en skreeu, sluit Hy my gebed uit. Hy het my weë toegesluit met gekapte klip, Hy het my paaie krom gemaak. Hy was vir my soos 'n beer wat lê en loer, en soos 'n leeu in skuilplekke. Hy het my weë omgedraai en my in stukke geruk; Hy het my 'n wildernis gemaak. Hy het sy boog gespan en my gestel as 'n teken vir die pyl. Hy het die pyle van sy pylkoker in my niere laat ingaan. Ek was 'n bespotting vir my hele volk; en hulle lied die hele dag. Hy het my met bitterheid vervul, Hy het my dronk gemaak van als. Hy het ook my tande met gruisklippe gebreek, my met as bedek. En U het my siel ver verwyder van vrede; ek het voorspoed vergeet. En ek het gesê: My krag en my hoop is vergaan van die HERE. Dink aan my ellende en my ellende, die als en die gal. My siel dink nog aan hulle en is in my verneder. Dit herinner ek my in gedagte, daarom hoop ek. Dit is uit die barmhartighede van die HERE dat ons nie verteer is nie, omdat sy medelye nie ophou nie. Hulle is elke môre nuut: groot is u trou. Die HERE is my deel, spreek my siel; daarom sal ek op hom hoop. God is die HERE vir die wat Hom verwag, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed dat 'n mens op die verlossing van die HERE hoop en stil wag. Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. Hy sit alleen en swyg, want hy het dit op hom gedra. Hy steek sy mond in die stof; indien wel, kan daar hoop wees. Hy gee sy wang vir hom wat hom slaan; hy is vol smaad.

KLAAGLIEDERE 3:1-30 Die Boodskap (DB)

Ek is die man wat ervaar het hoe seer dit is as die Here jou slaan omdat Hy vir jou kwaad is. Hy het my weggejaag na ’n baie donker plek toe. Hy het nie opgehou om my te slaan nie. Hy het my skouers laat hang en my knieë laat knak. Hy het my met swaarkry en lyding in ’n hoek vasgedruk. Hy laat my voel asof ek wil doodgaan. Dis of ek al klaar dood is. Hy het my toegesluit. Hy het my met swaar kettings geboei sodat ek nie kan uitkom nie. Hy luister nie eens wanneer ek bid nie, al roep ek ook hoe hard. Hy maak my paaie met groot klippe toe sodat ek langs ompaaie moet loop. Hy is soos ’n beer wat my voorlê, ’n leeu wat my lê en inwag. Hy het my uit die pad uit gesleep, my uitmekaargeskeur en my net so daar laat lê. Hy het die pyl in sy boog gespan. Hy het van my die teiken gemaak waarna Hy met sy pyle skiet. Hy het sy pylkoker op my leeggemaak met al die pyle wat Hy op my afgeskiet het. My volk lag vir my en maak aanmekaar spotliedjies oor my. Hy laat my bitter dinge sluk tot ek nie meer kan nie. Hy maak dit galbitter vir my. Hy het my in die grond in getrap. Ek het geval en my tande teen die klippe gebreek. Ek het vergeet hoe dit is om gelukkig en tevrede te wees. Al my vertroue is weg. Ek verwag niks meer van die Here nie. Ek word bitter wanneer ek aan my pyn en hartseer dink. My hart krimp inmekaar wanneer ek so oor alles dink. Maar daar is een ding wat my weer hoop laat kry: die Here hou nooit op om vir ons om te gee nie. Hy bly getrou. Sy liefde het ons gespaar. Hy het gekeer dat ons heeltemal uitgewis is. ’n Mens kan altyd op U vertrou. Elke oggend is U maar weer daar. Ek sê vir myself: “Ek vertrou die Here, want Hy gee vir my lewe.” Die Here is baie goed vir elkeen wat wil doen wat Hy vra en elkeen wat op Hom hoop. Dit is goed om geduldig te wag vir die Here om ons te red. Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die Here te wag. Iemand moet geduldig wees as daar van hom verwag word om stil te wees en te wag. Daar is vir hom nog hoop as hy tjoepstil bly. Hy moet maar sy trots sluk wanneer hulle hom beledig. Hy moet maar die ander wang ook na hulle toe draai.

KLAAGLIEDERE 3:1-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek is die man wat ellende ervaar het toe die HERE kwaad was. Hy het my na ’n plek gejaag waar daar geen lig is nie. Hy het teen my gedraai. Sy hand is dag en nag teen my. Hy het my laat uitteer. Ek het net vel en been geword. Hy het die gebeente van my liggaam gebreek. Hy het my omsingel en my met swaarkry en lyding omring. In ’n donker plek het Hy my gaan wegsit soos iemand wat lankal dood is. Hy het my ingehok en met swaar kettings geboei sodat ek nie kon uitkom nie. Wanneer ek bid en smeek vir hulp, ignoreer Hy my gebed. Hy pak my pad toe met klippe, Hy laat my ompaaie loop. Hy is soos ’n beer wat my voorlê, soos ’n leeu wat vir my lê en wag. Hy het my uit die pad gesleep, my uitmekaargeskeur en my net so daar laat lê. Hy het ’n pyl in sy boog gespan en sekuur na my gekorrel. Hy het sy houer met pyle op my leeggeskiet. My eie mense lag vir my. Hulle sing heeldag spotliedjies oor my. Hy het my vol gemaak met bitter dinge. Hy laat my bitterheid drink. Hy laat my klippe kou. Hy trap my weg in die grond. Ek het al vergeet hoe dit is om gelukkig en voorspoedig te wees. Ek roep uit: “Ek beteken niks. Ek verwag niks meer van die HERE nie.” Wanneer ek aan my pyn en my hartseer dink, word ek bitter. Ek sal nooit ooit vergeet van hierdie slegte tyd nie. Tog is daar een ding waarop ek kan reken en waarop ek altyd sal hoop: Deur die HERE se troue liefde is ons nie doodgemaak nie. Hy hou nooit op om vir ons om te gee nie. Sy genade het geen einde nie. Op u ontferming kan ’n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut. Ek sê vir myself: “My lewe behoort aan die HERE. Daarom vertrou ek op Hom.” Die HERE is goed vir hulle wat op Hom wag en Hom soek. Dit is goed om geduldig te wag totdat die HERE ons red. Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die HERE te wag. Mense moet geduldig sit en wag totdat die HERE aandag aan hulle gee. Daar is hoop vir jou as jy stilbly. Draai jou ander wang wanneer jou vyande jou beledig.