Dit is met mý wat dit sleg gegaan het,
want die Here was kwaad
en Hy het my gestraf.
Ek het gevoel Hy jaag my en Hy bring my
in 'n donker plek waar daar nie lig is nie.
Dit is net vir my wat Hy aanhou slaan,
elke dag.
Hy het my vleis en my vel
heeltemal droog laat word
en Hy het die bene in my liggaam gebreek.
Hy het 'n muur om my gebou,
Hy het my lewe bitter gemaak,
Hy het my laat swaarkry.
Hy het my laat woon in die donker,
soos mense wat lank gelede dood is.
Hy het 'n muur rondom my gebou
sodat ek nie kan uitkom nie.
Hy het my vasgebind met swaar kettings.
Hy wil nie hoor wat ek bid nie,
Hy luister ook nie wanneer ek skree
en bid en vra dat Hy my moet help nie.
Hy het my pad toegebou met klippe,
Hy het my op 'n ander pad laat loop.
Hy is soos 'n beer wat lê en wag
om my te vang,
soos 'n leeu wat stilletjies na my toe kruip.
Hy het my uit die pad gesleep,
Hy het my liggaam stukkend geskeur
en my daar laat lê.
Hy het sy pyl geneem
en Hy het sy boog se snaar styfgetrek
want Hy wou my skiet.
Hy het sy pyle in my lewer ingeskiet.
Al my mense lag vir my,
hulle sing oor my en spot vir my,
die hele dag lank.
Hy het my lewe baie moeilik
en bitter gemaak,
dit was soos wanneer ek
wilde-als geëet het.
Hy het my klippies laat kou,
sodat my tande gebreek het.
Hy het my plat getrap op 'n ashoop.
Daar is niks vrede in my lewe nie,
ek weet nie meer hoe dit voel
wanneer dit goed gaan nie.
En ek sê: Ek twyfel oor alles,
ek hoop nie meer dat die Here
my sal my help nie.
Here, U moet onthou dat ek swaarkry,
en dat ek nêrens 'n plek het waar ek
kan woon nie.
Wanneer ek daaraan dink,
dan is dit vir my soos wilde-als en gif.
Wanneer ek daaraan dink en dink,
dan word ek moedeloos.
Een ding weet ek, en dit is seker,
en daarom sal ek aanhou hoop:
Die Here doen altyd wat Hy belowe het,
Hy is altyd jammer vir mense wat swaarkry.
Here, U doen dit elke nuwe oggend,
U bly altyd dieselfde.
Ek sê: Die Here is alles wat ek het,
daarom sal ek aanhou hoop.
Die Here is goed vir mense wat glo
dat Hy hulle sal help,
vir mense wat naby Hom wil wees.
Dit is goed om stil te bly en te glo
dat die Here jou sal red.
Dit is goed wanneer iemand
'n juk moes dra
toe hy jonk was,
wanneer hy alleen moes sit
en moes stilbly omdat die Here
die juk op hom gesit het.
Dit is goed wanneer iemand
met sy gesig op die grond moet lê.
Miskien kan hy hoop dat iets goed
sal gebeur.
Dit is goed wanneer iemand
sy wang draai na die persoon toe
wat hom wil klap,
dit is goed wanneer hy aanhou toelaat
dat mense hom spot.