KLAAGLIEDERE 3:1-30

KLAAGLIEDERE 3:1-30 AFR83

Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan. Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op 'n pad sonder lig. Vir my stoot Hy gedurig weg, dag na dag. Hy het my hele liggaam laat wegteer, my bene gebreek. Hy het my toegebou met 'n muur van gif en ontbering rondom my. Hy maak die donker my tuiste, ek is soos dié wat lankal dood is. Hy het 'n muur om my gebou, ek kan nie uitkom nie, Hy het vir my swaar bronskettings aangesit. Al roep ek en al smeek ek om hulp, Hy weier om my gebed te verhoor. Hy het my pad met klip toegebou, vir my geen uitkomplek gelaat nie. Hy is soos 'n beer wat my inwag, soos 'n leeu wat my voorlê, Hy het my eenkant toe gekeer en verskeur, my vermink laat lê. Hy het sy boog gespan en my 'n teiken vir sy pyle gemaak. Hy het sy pyle diep in my liggaam ingeskiet. Ek word uitgelag deur my hele volk, hulle sing heeldag spotliedjies oor my. Hy het my bitter dinge laat sluk, die lewe vir my galbitter gemaak. Hy het my gruisklip laat kou, my in die grond getrap. Hy het alle rus van my af weggeneem; ek het al vergeet van voorspoed. Ek het gedink dit is klaar met my en met my hoop op die Here. Die gedagte aan my ellende en my vreemdelingskap is gal en gif vir my; as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas. Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir 'n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in sy eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig – miskien is daar hoop – laat hy sy wang draai vir wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind.

Gratis leesplanne en oordenkings oor KLAAGLIEDERE 3:1-30