KLAAGLIEDERE 3:1-30

KLAAGLIEDERE 3:1-30 AFR53

Alef. EK is die man wat ellende gesien het deur die roede van sy grimmigheid. My het Hy gelei en laat wandel in duisternis sonder lig. Ja, altyd weer draai Hy die hele dag sy hand teen my. Bet. Hy het my vlees en my vel laat wegteer, my gebeente verbreek. Hy het my met 'n bouwerk omsingel van gif en moeite. Hy het my in donker plekke laat sit soos die wat lankal dood is. Gimel. Hy het my toegemuur, sodat ek nie kan uitkom nie, my koperboeie swaar gemaak. Al skreeu ek ook en al roep ek om hulp, Hy laat my gebed onverhoord. Hy het my weë toegemuur met gekapte klip, my paaie onbegaanbaar gemaak. Dalet. Hy is 'n beer wat my voorlê, 'n leeu in skuilplekke. Hy het my weë laat wegdraai en my verskeur, my tot 'n woesteny gemaak. Hy het sy boog gespan en my as 'n teiken vir die pyl opgestel. He. Hy het die pyle uit sy pylkoker in my niere laat ingaan. Ek het 'n belagging geword vir my hele volk, hulle spotlied die hele dag. Hy het my met bitter kruie versadig, my genoeg wildeals laat drink. Wau. En Hy het my die tande op gruisklippertjies laat stukkend byt, my in die as neergedruk. En U het my siel van die vrede verstoot, ek het die goeie vergeet. Ja, ek het gesê: My roem het vergaan en my hoop op die HERE. Sajin. Dink aan my ellende en my omswerwing, aan die wildeals en die gif. As my siel terdeë daaraan dink, buig hy hom neer in my. Dit sal ek ter harte neem, daarom sal ek hoop: Get. dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; u trou is groot. Die HERE is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop. Tet. Goed is die HERE vir die wat op Hom hoop, vir die siel wat Hom soek. Dit is goed om in stilheid te hoop op die hulp van die HERE. Dit is goed vir 'n man dat hy die juk in sy jeug dra. Jod. Laat hom eensaam sit en swyg, as Hy hom dit opgelê het. Laat hy sy mond in die stof steek — miskien is daar hoop! Laat hy die wang gee vir die wat hom slaan, laat hy genoeg kry van smaad.

Gratis leesplanne en oordenkings oor KLAAGLIEDERE 3:1-30