LUKAS 1:39-80

LUKAS 1:39-80 NLV

’n Paar dae later het Maria haastig na die heuwelland van Judea vertrek, na die dorp waar Sagaria gewoon het. Sy is die huis in en het vir Elisabet gegroet. Met die geluid van Maria se groet, het die kindjie in Elisabet se skoot beweeg en Elisabet is met die Heilige Gees vervul. Sy het met ’n harde stem teenoor Maria uitgeroep: “Jy is bo alle ander vroue deur God geseën, en jou kind is geseënd. Wat ’n eer is dit dat die ma van my Here my besoek! Toe jy ingekom en my gegroet het, het my kindjie van vreugde beweeg die oomblik toe ek jou stem hoor! Jy is geseënd omdat jy vertrou het dat die Here sal doen wat Hy gesê het.” Maria het geantwoord: “Ek prys die Here. Ek juig in God my Verlosser! Want Hy het omgesien na sy nederige diensmeisie, en nou sal geslag na geslag my geseënd noem. Want Hy, die magtige Een, het groot dinge vir my gedoen. Heilig is sy Naam! Sy ontferming strek van geslag tot geslag oor almal wat Hom eer. Sy kragtige arm doen geweldige dinge! Hy verstrooi die trotse en hooghartige mense! Hy het prinse onttroon en nederiges verhef. Hy het dié wat gebrek ly, met goeie dinge versadig, en die rykes met leë hande weggestuur. Hy het sy dienaar Israel gehelp! Hy het nie sy belofte vergeet om ontferming te bewys nie. Want Hy het ons voorvaders beloof – vir Abraham en sy kinders – om vir altyd goed te wees teenoor hulle.” Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly en toe is sy huis toe. Toe die tyd aangebreek het vir Elisabet se kind om gebore te word, het sy ’n seun in die wêreld gebring. Die nuus het vinnig onder haar bure en familie versprei dat die Here Hom oor haar ontferm het en almal was saam met haar bly. Toe die kindjie agt dae oud was, het al die familie en vriende bymekaargekom vir sy besnydenis. Hulle wou hom Sagaria noem, na sy pa. Maar Elisabet het gesê: “Nee! Sy naam is Johannes!” “Maar daar is dan niemand in jou familie met die naam nie,” het hulle gesê. Met gebare vra hulle toe die kindjie se pa. Daarop beduie hy dat ’n skryfbordjie gebring moet word, en tot almal se verbasing skryf hy: “Sy naam is Johannes!” Hy kon dadelik weer praat, en hy het God onmiddellik begin prys. Die hele buurt is met ontsag vervul en die nuus oor wat gebeur het, het oral deur die Judese heuwelland versprei. Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor nagedink en gevra: “Wat sal eendag van hierdie kindjie word?” Want die hand van die Here was duidelik op hom. Sy pa, Sagaria, is hierna met die Heilige Gees vervul en het as profeet gesê: “Prys die Here, die God van Israel, want Hy het sy volk opgesoek en hulle gered. Hy het vir ons ’n magtige Redder gestuur uit die koninklike geslag van sy dienaar Dawid, soos Hy lank gelede deur sy heilige profete beloof het. Nou sal ons van ons vyande gered word en van almal wat ons haat. Hy was genadig teenoor ons voorvaders en Hy het sy heilige verbond met hulle onthou, die eed wat Hy teenoor Abraham ons voorvader gesweer het dat Hy sou sorg dat ons, gered van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien in toewyding en geregtigheid vir altyd. En jy, kindjie, sal ’n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal die pad van die Here voorberei. Jy sal sy volk vertel hoe om verlos te word: deurdat hulle sonde vergewe word. Vanweë God se tere ontferming is die lig van die hemel op die punt om oor ons te skyn, om lig te bring aan hulle wat in donkerheid en die skaduwee van die dood lewe, en om ons te lei op die pad van vrede.” Johannes het groot en sterk geword in die Gees. Hy het in die woestyn gewoon totdat hy sy bediening onder Israel begin het.