LUKAS 16:1-13

LUKAS 16:1-13 NLV

Jesus het hierdie verhaal aan sy dissipels vertel: “’n Ryk man het ’n bestuurder in diens gehad om sy sake te behartig, maar gou het ’n gerug die rondte gedoen dat die bestuurder sy baas se besittings verkwis. Sy werkgewer roep hom toe in en sê: ‘Wat hoor ek van jou? Stel jou verslag op, want jy gaan ontslaan word.’ “Die bestuurder het by homself gedink: ‘Wat nou? Dis klaarpraat met my hier; ek het nie die krag om te gaan slote grawe nie en ek is te trots om te gaan bedel. Ek het die oplossing! Dit gaan vir my boonop nog baie vriende besorg wat na my sal omsien as ek hier padgee!’ “Hy het toe elke persoon wat aan sy werkgewer geld geskuld het, ingeroep om die situasie te bespreek. Hy het vir die eerste een gevra: ‘Hoeveel skuld jy hom?’ Die man het geantwoord: ‘Ek skuld hom 100 vate olyfolie.’ Die bestuurder sê toe: ‘Skeur op daardie skuldbrief en teken ’n ander een vir 50.’ “‘En hoeveel skuld jy my werkgewer?’ het hy vir die volgende persoon gevra. ‘100 sakke koring,’ was die antwoord. ‘Hier,’ het die bestuurder gesê, ‘vat jou skuldbrief en vervang dit met een vir 80 sakke.’ “Die ryk man moes tog die oneerlike bestuurder prys omdat hy so uitgeslape was. En dit is waar dat die mense van hierdie wêreld onder mekaar vindingryker is as die godvresende mense. Ek sê vir julle, gebruik julle wêreldse bronne tot voordeel van ander, en maak só vriende. Op dié manier sal julle vrygewigheid vir julle ’n beloning in die hemel verseker.” “As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. As jy selfs ’n klein bietjie oneerlik is, sal jy nie eerlik wees met groot verantwoordelikhede nie. En as julle onbetroubaar is met wêreldse rykdom, wie sal julle vertrou met die werklike rykdom van die hemel? En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word? “Niemand kan twee eienaars dien nie. Want jy sal die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én geld dien nie.”