Jesus het ook vir sy dissipels gesê: “Daar was 'n ryk man wat 'n bestuurder gehad het, en dié is by hom daarvan aangekla dat hy sy besittings verkwis. Hy het hom toe ingeroep en vir hom gesê, ‘Wat is dit wat ek van jou hoor? Doen verslag van jou bestuur van sake, want jy kan nie langer my bestuurder wees nie.’ Die bestuurder het by homself gedink: Wat moet ek doen, noudat my eienaar my bestuurderskap van my wegneem? Spit kan ek nie, en ek is te skaam om te bedel. Ek weet wat ek gaan doen, sodat die mense my in hulle huise sal ontvang wanneer ek as bestuurder ontslaan is. Hy het toe sy eienaar se skuldenaars een vir een ingeroep. Vir die eerste een het hy gevra, ‘Hoeveel skuld jy my eienaar?’ En hy het geantwoord, ‘Honderd bat olyfolie.’ Hy sê toe vir hom, ‘Vat jou skuldbrief en gaan sit en skryf gou vyftig.’ Hierna het hy vir 'n ander een gevra, ‘En jy, hoeveel skuld jy?’ Hy antwoord, ‘Honderd kor koring.’ Vir hom sê hy, ‘Vat jou skuldbrief en skryf tagtig.’ Die eienaar het die oneerlike bestuurder toe geprys, omdat hy verstandig opgetree het, want die kinders van hierdie wêreld tree verstandiger teenoor mekaar op as die kinders van die lig. Ek sê vir julle, ‘Maak vir julle vriende deur middel van die oneerlike Mammon, sodat, wanneer dit tot 'n einde kom, hulle julle in die ewige wonings mag ontvang.’ Wie in die geringste betroubaar is, is ook betroubaar waar dit om baie gaan, en wie in die geringste oneerlik is, is ook oneerlik waar dit om baie gaan. As julle dan nie betroubaar was wat die oneerlike Mammon betref nie, wie sal julle met die ware rykdom vertrou? En as julle nie betroubaar was met 'n ander se goed nie, wie sal vir julle gee wat julle toekom? Geen huiskneg kan twee base dien nie, want hy sal óf die een haat en die ander een liefhê, óf hy sal aan die een lojaal wees en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”