LUKAS 9:1-27

LUKAS 9:1-27 NLV

Eendag het Jesus sy twaalf apostels bymekaargeroep en hulle mag en gesag oor bose geeste gegee asook om alle siektes te genees. Toe het Hy hulle uitgestuur om almal te gaan vertel van die koningsheerskappy van God, en om siekes te genees. “Moenie eers ’n kierie saamvat nie,” het Hy gesê, “of ’n reissak of kos of geld nie; nie eers boklere nie. Wanneer julle in ’n dorp kom, bly dan in die eerste die beste huis. As die mense van die dorp by julle aankoms nie julle boodskap aanvaar nie, skud dan die stof van julle voete af by julle vertrek. Dit is ’n teken dat julle daardie dorp aan sy eie lot oorlaat.” So het hulle dan na die dorpies vertrek, die Goeie Nuus verkondig en die siekes gesond gemaak. Toe Herodes Antipas hoor van Jesus se wonders, was hy bekommerd en in die war, want sommige mense het gesê: “Johannes die Doper het uit die dood opgestaan.” Ander het gesê: “Dit is Elia of een van die vroeëre profete wat uit die dood opgestaan het.” “Vir Johannes het ek laat onthoof,” het Herodes gesê. “Maar wie is hierdie man van wie ek sulke vreemde dinge hoor?” En hy het Hom te sien probeer kry. Toe die apostels terugkom, het hulle vir Jesus alles vertel wat hulle gedoen het. Toe is Hy stilletjies saam met hulle na die dorp Betsaida. Maar die skare het uitgevind waarheen Hy op pad was en Hom gevolg. Hy het hulle verwelkom en hulle onderrig oor die koningsheerskappy van God, en dié wat siek was, gesond gemaak. Laatmiddag het die twaalf apostels na Hom gekom en gesê: “Stuur die mense na die omliggende dorpe en plase om daar kos en verblyf vir die nag te kry. Hier is niks te eet in hierdie verlate plek nie.” Maar Jesus sê: “Gee júlle vir hulle kos.” “Dis onmoontlik!” het hulle beswaar gemaak. “Ons het net vyf brode en twee visse. Of verwag U dat ons genoeg kos moet gaan koop vir hierdie hele skare?” Want daar was omtrent 5 000 mans bymekaar. “Sê net hulle moet op die grond gaan sit in groepe van omtrent 50 elk,” het Jesus geantwoord. Toe het al die mense gaan sit. Jesus het die vyf brode en twee visse geneem, opgekyk na die hemel, en God se seën daarop gevra. Hy het toe aangehou om die brood in stukke te breek en dit saam met die vis aan sy dissipels gegee om aan die mense te gee. Almal het soveel geëet as wat hulle wou en hulle het twaalf mandjies vol oorskiet opgetel. Eendag ná Jesus alleen in gebed was, het Hy na sy dissipels gekom en gevra: “Wie sê die mense is Ek?” “Wel,” het hulle geantwoord, “sommige sê Johannes die Doper, sommige sê Elia, en ander sê U is een van die vroeëre profete wat uit die dood opgestaan het.” Toe vra Hy vir hulle: “Wie, sê julle, is Ek?” Petrus het geantwoord: “U is die Messias wat deur God gestuur is!” Jesus het hulle gewaarsku om dit vir niemand te vertel nie. “Want Ek, die Seun van die Mens, moet baie dinge ly,” het Hy gesê. “Ek sal deur die familiehoofde, die priesterhoofde en die skrifkenners verwerp word. Ek sal doodgemaak word, maar drie dae later sal Ek uit die dood opgewek word.” Toe het Hy vir die skare gesê: “As julle my volgelinge wil wees, moet julle julle eie ek prysgee, elke dag julle kruis opneem en My volg. As julle probeer om julle lewe vir julleself te bewaar, sal julle dit verloor. Maar as julle julle lewe ter wille van My prysgee, sal julle dit juis bewaar. Wat sal dit jou tog help as jy alles in die lewe bereik, maar in die proses jouself vernietig of skade aandoen? As iemand skaam is vir My of my boodskap, sal Ek, die Seun van die Mens, My vir hom skaam wanneer Ek terugkeer in my heerlikheid, en die heerlikheid van my Vader en die heilige engele. En Ek verseker julle dat sommige wat nou hier staan, nie sal sterf voor julle die koningsheerskappy van God gesien het nie.”