Jesus het die twaalf bymekaargeroep, en aan hulle mag en gesag oor alle demone gegee en om siektes te genees. Toe het Hy hulle uitgestuur om die •koninkryk van God te verkondig en om die siekes gesond te maak, en vir hulle gesê: “Moet niks vir die pad saamneem nie, nie 'n wandelstok of 'n reissak of brood of geld of twee kledingstukke nie. Watter huis julle ook al binnegaan, bly daar oor totdat julle weer daarvandaan vertrek. En as enigiemand julle nie verwelkom nie – wanneer julle daardie dorp verlaat, skud die stof van julle voete af as getuienis teen hulle.” Hulle het toe vertrek en die land van een dorpie na die ander deurreis, terwyl hulle die evangelie verkondig en oral siekes gesond maak.
Herodes, die tetrarg, het van al hierdie gebeurtenisse gehoor en was verward, omdat sommige mense sê dat Johannes uit die dood opgewek is, terwyl ander beweer dat Elia verskyn het, en nog ander dat een van die profete van ouds opgestaan het. Herodes het gesê: “Johannes het ek onthoof, maar wie is hierdie persoon van wie ek sulke dinge hoor?” En hy het probeer om Hom te siene te kry.
Die •apostels het teruggekeer en vir Jesus vertel wat hulle alles gedoen het. Toe het Hy, met net hulle by Hom, na 'n dorp gegaan wat Betsaida genoem word. Maar die skare het dit agtergekom en Hom daarheen gevolg. Hy het hulle verwelkom, en met hulle gepraat oor die •koninkryk van God, en diegene wat genesing nodig gehad het, het Hy gesond gemaak. Dit het al skemer begin raak. Toe het die twaalf nader gekom en vir Hom gesê: “Stuur die skare weg na die dorpies en plase in die omgewing om slaapplek en kos te gaan soek, want ons is hier op 'n verlate plek.” Hy sê toe vir hulle: “Gee julle vir hulle iets te ete.” Maar hulle antwoord: “Ons het niks meer nie as net vyf brode en twee visse, tensy ons gaan kos koop vir al hierdie mense.” Daar was ongeveer vyfduisend mans. Hy sê toe vir sy dissipels: “Laat hulle gaan sit in groepe van ongeveer vyftig.” Hulle het so gemaak en almal laat sit. Hy het die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seëngebed uitgespreek. Hy het dit toe in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee om aan die skare uit te deel. Almal het geëet en het versadig geword, en van die stukke wat oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.
Op 'n keer, toe Jesus alleen gebid het, met slegs sy dissipels by Hom, het Hy hulle gevra: “Wie sê die mense is Ek?” En hulle het geantwoord: “Johannes die Doper, maar ander sê Elia, en ander weer dat een van die profete van ouds opgestaan het.” Hy sê toe vir hulle: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” •Petrus het geantwoord: “Die Christus van God.”
Jesus het hulle opdrag gegee om dit aan niemand te vertel nie, “want,” het Hy gesê, “die •Seun van die Mens moet baie ly, deur die familiehoofde, leierpriesters en die skrifkenners verwerp en doodgemaak en op die derde dag opgewek word.”
Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg; want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red. Want wat help dit 'n mens as hy die hele wêreld as wins bekom het, maar homself verloor of skade aangedoen het? Wie hom vir My en my woorde skaam, vir hom sal die •Seun van die Mens Hom ook skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en die heilige engele. Ek verseker julle: Sommige van dié wat hier staan, sal beslis nie die dood smaak voordat hulle die koningsheerskappy van God gesien het nie.”