Terwyl hulle besig was om te eet, het Jesus brood geneem en God se seën daarop gevra. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.”
Hy het ook die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê toe vir hulle: “Dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek nie weer wyn sal drink nie tot op daardie dag wanneer Ek opnuut die feeswyn sal drink in die koninkryk van God.”
Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe.
Jesus sê toe vir hulle: “Julle gaan almal julle rug op My draai. Daar staan immers geskryf:
‘Ek sal die skaapwagter doodmaak,
en die skape sal
uitmekaargejaag word.’
“Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.”
Petrus verseker Hom toe: “Al draai almal hulle rug op U – ék sal dit nie doen nie!”
Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voor die tweede kraai van die haan, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.”
Maar Petrus het heftig aanhou sê: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal U beslis nooit verloën nie!” En almal van hulle het dit beaam.
Hulle kom toe by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit julle hier terwyl Ek gaan bid.” Daarop neem Hy Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom. Toe pak ’n geweldige ontsteltenis en benoudheid Hom en Hy sê vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe! Bly hier en waak!” Hy het toe ’n entjie verder gegaan en op die grond neergeval en gebid dat, as dit moontlik was, die verskriklike uur wat aan die kom was, by Hom sou verbygaan. “ Abba ” – dit beteken Vader – het Hy gebid, “vir U is alles moontlik. Neem tog hierdie beker van lyding van My weg. Maar doen nogtans nie wat Ék wil nie, maar wat Ú wil.” Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “Simon, slaap jy werklikwaar? Kon jy nie een uur waak nie? Wees waaksaam en bid. Anders sal die versoeking vir julle te sterk word. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.”
Hy het toe weer weggegaan en dieselfde gebed gebid. Toe Hy weer terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want hulle was so vaak dat hulle hulle oë net nie kon oophou nie. Hulle was te verleë om Hom te antwoord.
Toe Hy die derde keer by hulle terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog steeds? Dis nou genoeg! Die tyd het aangebreek. Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense. Staan op, ons moet gaan. Kyk, my verraaier is hier.”
Dadelik hierna – Jesus was nog besig om te praat – kom Judas, een van die twaalf dissipels, daar aan met ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde, die skrifkenners en die familiehoofde. Sy verraaier het reeds vooraf vir hulle ’n uitkenningsteken gegee met die woorde: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom en vat hom onder bewaking weg.”
Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Leermeester,” en Hom gesoengroet. Toe het die ander Hom gegryp en gearresteer. Maar een van die omstanders het ’n swaard getrek, dit geswaai en die slaaf van die hoofpriester se oor afgekap.
Toe vra Jesus vir hulle: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer toe Ek dag vir dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar hierdie dinge gebeur sodat wat in die Skrif staan, vervul kan word.”
Dit was toe dat almal Jesus net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom. Daar was ook ’n jong man wat saam met Jesus na die tuin gekom het. Hy het net ’n naghemp om sy lyf gehad. Hulle probeer hom toe ook vang, maar hy het die naghemp net daar in hulle grypende hande gelos en kaal weggehardloop.
Hulle het Jesus toe na die hoofpriester se woning toe gebring, waar al die priesterhoofde, die familiehoofde en die skrifkenners bymekaargekom het. Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg tot in die binnehof van die hoofpriester se woning. Hy het ’n ruk lank daar by die dienspersoneel gesit en hom by die vuur warm gemaak.
Binne die huis het die priesterhoofde, en trouens die hele Joodse Raad, getuienis teen Jesus probeer verkry wat tot sy doodstraf sou kon lei, maar hulle kon niks vind nie. Daar het inderdaad baie gekom om vals getuienis teen Hom af te lê, maar hulle het mekaar weerspreek. Daar staan toe sekere persone op wat bedrieglik die volgende teen Hom getuig: “Ons het hierdie man hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met mensehande gebou is, afbreek en in drie dae sal Ek ’n ander een oprig wat sonder mensehande gebou is.’” Maar selfs só het hulle getuienis nie geklop nie.
Toe staan die hoofpriester in die vergadering op en vra vir Jesus: “Het jy geen verweer teen hierdie getuienis wat hulle teen jou inbring nie?” Maar Jesus het net bly swyg. Hy het hulle glad nie geantwoord nie. Die hoofpriester vra toe nog ’n keer vir Hom: “Is jy die Messias, die Seun van die lofwaardige God?” Jesus se antwoord was: “Ja, Ek is,
en julle sal vir My, die Seun van die Mens,
sien sit aan die regterhand van God,
die Magtige,
en hoe Ek terugkom met die wolke
van die hemel.”
Toe skeur die hoofpriester sy klere uit verontwaardiging en sê: “Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het sy godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?”
Hulle het eenparig verklaar: “Hy is skuldig. Hy verdien die doodstraf.”
Sommige het op Hom begin spoeg en Hom geblinddoek. Daarna het hulle Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer ’n slag!” Selfs die dienspersoneel het Hom in die gesig geklap toe hulle Hom wegvat.
Petrus was nog steeds onder in die binnehof. Een van die diensmeisies wat vir die hoofpriester gewerk het, kom toe daar aan en sien vir Petrus waar hy hom by die vuur warm maak. Sy kyk toe stip na hom en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Nasarener.”
Hy het dit egter ontken en gesê: “Ek weet glad nie waarvan jy praat nie.” Hy staan toe verder weg na die voorportaal se kant toe. Net op daardie oomblik kraai daar toe ’n haan.
Die diensmeisie kyk toe na hom en begin weer vir dié wat daar rondstaan, sê: “Hierdie man is ook een van hulle!” Petrus het dit weer ontken. ’n Klein rukkie later sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle. Jy is ook ’n Galileër.”
Petrus het hewig begin vloek en sweer: “Die Here weet, ek ken hierdie man van wie julle praat, glad nie!” Direk daarna het die haan vir die tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval dat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan twee keer kraai, sal jy drie keer ontken dat jy my dissipel is.” Toe het hy in trane uitgebars.