Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir hulle gegee met die woorde: “Neem dit, dit is my liggaam.”
Toe neem Hy 'n beker en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. Hy sê vir hulle: “Dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie mense vergiet word. Dit verseker Ek julle: Ek sal nie weer wyn drink nie tot op daardie dag wanneer Ek die nuwe wyn in die koninkryk van God sal drink.”
Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe.
Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal van My afvallig word. Daar staan immers geskrywe:
“Ek sal die herder doodmaak,
en die skape sal uitmekaar gejaag word.
“Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruit gaan na Galilea toe.”
Petrus het vir Hom gesê: “Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”
Jesus sê toe vir hom: “Dit verseker Ek jou: Jy sal vandag nog, in hierdie nag, voordat die haan 'n tweede keer kraai, My drie keer verloën.”
Maar Petrus het nadruklik gesê: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!”
En al die ander het dieselfde gesê.
Toe kom hulle by 'n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.”
Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”
Hy het toe 'n entjie daarvandaan op die grond gaan kniel en gebid dat, as dit moontlik is, die uur van lyding nie vir Hom sou aanbreek nie. Hy het gesê: “Abba, Vader, alles is vir U moontlik. Neem hierdie lydensbeker van My af weg. Moet nogtans nie doen wat Ek wil nie, maar wat U wil.”
Hy kom toe terug en kry die drie aan die slaap en vra vir Petrus: “Simon, slaap jy? Kon jy nie eens een uur lank wakker bly nie? Julle moet waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”
Hy het weer gaan bid en dieselfde gebed as voorheen uitgespreek. Hy kom toe terug en kry die drie weer aan die slaap, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.
Toe Hy die derde keer terugkom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nou nog? Dit is genoeg. Die tyd het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van die sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.”
Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, wat een van die twaalf was, daar aan saam met 'n klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die skrifgeleerdes en die familiehoofde gestuur. Die verraaier het met die mense 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is hy. Gryp hom en vat hom weg. Moenie dat hy ontsnap nie.”
Toe hy dan daar kom, het hy reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Rabbi!” en Hom met 'n soen gegroet. Die ander het vir Jesus gegryp en Hom gevange geneem.
Een van dié wat daarby gestaan het, het 'n swaard uitgepluk, daarmee na die slaaf van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap.
Jesus sê toe vir die mense: “Het julle met swaarde en stokke gekom om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag was Ek by julle besig om die mense in die tempel te leer en julle het My nie gevange geneem nie. Maar die Skrif moet in vervulling gaan.”
Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.
'n Sekere jongman is saam agter Jesus aan, met net 'n doek om sy lyf. Die mense gryp hom toe, maar hy het die doek gelos en kaal weggehardloop.
Hulle het Jesus weggelei na die hoëpriester toe. Die priesterhoofde en die familiehoofde en die skrifgeleerdes het almal daar saamgekom.
Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot binne-in die binnehof van die hoëpriester se woning. Daar het hy hom saam met die wagte by die vuur gesit en warm maak.
Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het geprobeer om 'n aanklag teen Jesus te kry om Hom dood te maak, maar hulle het niks gekry nie. Baie mense het vals getuienis teen Hom afgelê, maar die getuienis het nie ooreengestem nie.
Sommige van hulle het na vore gekom en vals getuienis teen Hom afgelê deur te sê: “Ons het hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel, wat deur mense gemaak is, vernietig en binne drie dae 'n ander een bou wat nie deur mense gemaak is nie.” Maar ook hieroor het hulle getuienis nie ooreengestem nie.
Toe het die hoëpriester in die Raad opgestaan en Jesus begin ondervra. “Verweer jy jou glad nie?” het hy gesê. “Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?”
Maar Jesus het niks gesê nie en Hom glad nie verweer nie.
Die hoëpriester het Hom verder ondervra. “Is jy die Christus, die Seun van Hom aan wie die lof toekom?” het hy Hom gevra.
“Ek is,” het Jesus geantwoord,
“en julle sal die Seun van die mens sien
waar Hy sit aan die regterhand van Hom wat magtig is,
en wanneer Hy kom op die wolke van die hemel.”
Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Waarvoor het ons nog getuies nodig? Julle het die godslastering gehoor. Hoe lyk dit vir julle?”
Hulle het Hom eenparig veroordeel: “Hy verdien die dood!”
Party van hulle het begin om op Hom te spoeg. Hulle het sy oë toegebind, Hom met die vuis geslaan en vir Hom gesê: “Profeteer 'n bietjie!”
Ook die wagte het Hom geklap toe hulle Hom wegvat.
Terwyl Petrus onder in die binnehof was, kom een van die hoëpriester se diensmeisies daar. Toe sy vir Petrus sien, besig om hom warm te maak, kyk sy na hom en sê: “Jy was ook saam met die man van Nasaret, die Jesus.”
Hy het dit egter ontken deur te sê: “Ek ken Hom nie en ek verstaan ook nie wat jy sê nie.” Toe het hy na die deur se kant toe gestaan. En daar het 'n haan gekraai.
Die diensmeisie het hom gesien en weer vir dié wat daar by gestaan het, gesê: “Hy is een van hulle.” Maar hy het dit weer ontken.
'n Rukkie later het dié wat daar by gestaan het, vir Petrus gesê: “Werklik, jy is een van hulle, want jy is mos ook 'n Galileër.”
Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Daardie man van wie julle praat, ken ek nie.”
En onmiddellik het die haan 'n tweede keer gekraai. Dit het Petrus toe bygeval wat Jesus vir hom gesê het: “Voordat die haan 'n tweede keer kraai, sal jy My drie keer verloën.”
En hy het in trane uitgebars.