PSALMS 119:81-128

PSALMS 119:81-128 NLV

Ek verlang na u redding; ek vertrou op u woord. Ek ooreis my oë om te sien wanneer u beloftes waar word, en vra: “Wanneer sal U my vertroos?” Ek het verskrompel soos ’n wynsak in rook, maar ek vergeet nie u voorskrifte nie. Hoe lank moet u dienaar wag? Wanneer straf U my agtervolgers? Hierdie verwaande mense wat nie leef volgens u gebooie nie, het vir my vanggate gegrawe. Al u gebooie is betroubaar. Help my, want hulle vervolg my sonder rede. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar ek het geweier om af te sien van u bevele. Op grond van u troue liefde, spaar tog my lewe sodat ek kan voortgaan om u waarskuwings te gehoorsaam. U woord, HERE, is vir altyd, dit staan vas in die hemel. U trou is vir geslag na geslag, U het die aarde gevestig, en dit staan nog vas. U bepalings is vandag nog waar, want al hierdie dinge is u dienaars. As u gebooie nie vir my vreugde was nie, sou ek gesterf het van ellende. Ek sal u bevele nooit vergeet nie, want daardeur gee U my die lewe. Ek behoort aan U; red my tog! Want ek vra na u bevele. Bose mense wag my in om my dood te maak, maar ek neem u waarskuwings in ag. Selfs volmaaktheid het sy perke, maar u gebooie ken geen grense nie. Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my. Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings. Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele. Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam. Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond. Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad. U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad. Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam. Ek het baie swaargekry, HERE. Vernuwe my lewe volgens u woord. HERE, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings. My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie. Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie. U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart. Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe. Ek haat besluitelose mense, maar u gebooie het ek lief. U is my toevlug en beskermer; ek vertrou op u woord. Gaan weg van my, kwaaddoeners, want ek gehoorsaam die gebooie van my God. Hou my staande soos U beloof het sodat ek kan lewe. Laat my nie beskaam wees in my hoop nie. Ondersteun my en ek sal gered word; ek sal u voorskrifte altyd eerbiedig. U verwerp almal wat van u voorskrifte afwyk. Hulle ontrou lei tot selfbedrog. Al die bose mense van die aarde is soos skuim wat U afskep; daarom het ek u waarskuwings lief. Ek bewe van vrees vir U; ek vrees u oordeel. Moenie my oorlaat aan die genade van my vyande nie, ek het gedoen wat reg en regverdig is. Beloof tog dat dit goed sal gaan met u dienaar. Moenie dat verwaande mense my verdruk nie. Ek ooreis my oë om u redding te sien en u woord van geregtigheid. Behandel u dienaar volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienaar; gee my die vermoë om te onderskei sodat ek u voorwaardes kan verstaan. Dis tyd dat U optree, HERE, want hulle het u gebooie oortree. Daarom is ek lief vir u opdragte, meer as goud, selfs die fynste goud. Omdat elkeen van u bevele reg is, haat ek elke verkeerde pad.