PSALMS 119:81-128

PSALMS 119:81-128 AFR83

Ek smag na u redding, ek vertrou op u woord. Ek sien verlangend uit na die vervulling van u belofte en vra: “Wanneer gee U tog vir my uitkoms?” Ek het verskrompel soos 'n velsak in die rook, maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie. Hoe lank moet ek nog so lewe? Wanneer straf U my vervolgers? Die hovaardiges, wat nie volgens u wet lewe nie, het vir my meer as een keer 'n gat gegrawe om in te val. Op al u gebooie kan ek my verlaat. Help my, want dié mense vervolg my sonder rede. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar u bevele het ek nie verontagsaam nie. Hou my in die lewe omdat U my liefhet, dan sal ek u onderwysing gehoorsaam. U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel. U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde gemaak, en dit staan vas. Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas, alles is aan U onderworpe. As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom in my ellende. Ek sal u bevele nooit verontagsaam nie, want deur hulle het U my in die lewe gehou. Ek behoort aan U, red my, want ek vra steeds wat u bevele is. Al staan die goddeloses gereed om my te vernietig, u verordeninge sal ek in ag bly neem. Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie. Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, en is altyd by my. Ek munt uit bo al my leermeesters, want u verordeninge bly my by. Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam u bevele. Ek het my voete van elke verkeerde pad af gehou sodat ek gehoorsaam kan wees aan u woord. Van u bepalings het ek nie afgewyk nie, want U het my dit geleer. Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad. Ek het 'n eed afgelê, en daarby sal ek bly, om my aan u bepalings te hou; hulle is regverdig. Ek ly swaar, Here, hou my in die lewe, soos U beloof het. Neem tog my dank aan, Here. Leer my u bepalings. My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie. Die goddeloses stel vir my 'n strik, maar van u bevele wyk ek nie af nie. U verordeninge maak ek altyd my eie, want hulle is vir my 'n vreugde. Ek lê my daarop toe om u voorskrifte altyd uit te voer, tot die einde toe. Ek haat huigelary, maar u wet het ek lief. By U skuil ek, U beskerm my, in u woord stel ek my vertroue. Gaan weg van my af, julle wat onreg doen; ek sal aan die gebooie van my God gehoorsaam bly. Laat my vas staan soos U beloof het, dat ek kan lewe, dat ek nie teleurgestel sal wees in my verwagting nie. Beskerm my, dan sal ek behoue bly en u voorskrifte gedurig voor oë hou. U verwerp almal wat van u voorskrifte afdwaal; met hulle ontrou mislei hulle hulleself. U verwyder al die goddeloses van die aarde af soos waardelose skuim, daarom het ek u verordeninge lief. Ek sidder van vrees vir U, ek het diepe ontsag vir u bepalings. Ek het gedoen wat reg en regverdig is, moet my tog nie oorgee aan die genade van dié wat my veronreg nie. Tree tog vir my in dat dit met my goed kan gaan, moenie toelaat dat hovaardige mense my verdruk nie. Ek smag na die bevryding wat U bring, na u woord wat my red. Handel met my volgens u troue liefde, leer my u voorskrifte. Ek is u dienaar: onderrig my tog in u verordeninge. Dit is tyd dat die Here ingryp teen dié wat sy wet oortree. Ek het u gebooie liewer as goud, as fyn goud. Daarom leef ek nougeset volgens al u bevele en haat ek elke verkeerde pad.