Psalms 119:81-128

Psalms 119:81-128 AFR20

My •siel smag na u verlossing; op u woord wag ek. My oë smag na u belofte en vra: “Wanneer sal U my troos?” Want ek het geword soos 'n stuk vel vol rook, maar u voorskrifte het ek nie vergeet nie. Hoeveel dae is daar nog vir u dienskneg? Wanneer gaan u die oordeel voltrek oor my vervolgers? Vermeteles het vir my vangkuile gegrawe, hulle wat nie volgens u wet optree nie. Al u bevele is betroubaar, maar hulle vervolg my sonder rede. Help my! Byna het hulle my vernietig hier op aarde, maar ek, ek het u opdragte nie verontagsaam nie. Maak my lewend in ooreenstemming met u troue liefde, sodat ek die bepalings uit u mond kan nakom. Vir ewig, HERE, staan u woord vas in die hemel. Van geslag tot geslag duur u trou; U het die aarde gevestig en dit hou stand. Volgens u beslissings hou dit vandag nog stand, want alles is u diensknegte. As u wet nie my vreugde was nie, sou ek in my ellende vergaan het. Tot in ewigheid sal ek u opdragte nie vergeet nie, want daardeur het U my lewend gemaak. Aan U behoort ek; verlos my, want na u opdragte streef ek. Goddeloses wag my in om my te vernietig; op u bepalings slaan ek ag. Ek het gesien aan alle volmaaktheid kom daar 'n einde, maar u gebod is besonder ruim. Hoe lief het ek u wet – die hele dag dink ek daaroor na. U gebod maak my wyser as my vyande, want dit is altyd daar vir my. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u bepalings is vir my stof tot nadenke. Ek het meer insig as oumense, want by u opdragte hou ek. Van elke slegte pad het ek my voete weerhou sodat ek u woord kon onderhou. Van u beslissings het ek nie afgewyk nie, want dit is U wat my onderrig. Hoe strelend is u woord vir my verhemelte, meer as heuning vir my mond. Uit u opdragte kry ek insig; daarom haat ek elke bedrieglike pad. U woord is 'n lamp vir my voet en 'n lig vir my lewenspad. Ek het 'n eed afgelê – en daarby gehou – om u regverdige beslissings na te kom. Ek is baie terneergedruk; HERE, maak my lewend volgens u woord! Laat die vrywillige offers van my mond tog vir U aanvaarbaar wees, HERE, en leer my u beslissings. My lewe is voortdurend in my hande; maar u wet vergeet ek nie. Goddeloses het vir my 'n net gespan, maar van u opdragte het ek nie afgewyk nie. Ek het u bepalings as blywende erfporsie ontvang; ja, dit is die vreugde van my hart. Ek rig my hart daarop om u voorskrifte uit te voer – vir altyd, tot die einde toe. Dubbelhartige mense haat ek, maar u wet het ek lief. My skuilplek en my skild is U; op u woord vestig ek my hoop. Gaan weg van my, julle kwaaddoeners, sodat ek by die gebooie van my God kan hou. Ondersteun my, volgens u woord, sodat ek kan lewe; laat my nie beskaamd staan oor my hoop nie. Onderskraag my, sodat ek verlos kan word; ek wil voortdurend aan u voorskrifte aandag gee. U verwerp almal wat dwaal, weg van u voorskrifte af; want hulle bedrog is misleidend. Soos metaalskuim verwyder U al die goddeloses van die aarde; daarom het ek u bepalings lief. My lyf bewe omdat U vrees inboesem; ja, vir u beslissings is ek vol ontsag. Ek doen wat billik en reg is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie. Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie. My oë smag na u verlossing, na u belofte van •geregtigheid. Handel met u dienskneg volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. Ek is u dienskneg; gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken. Dit is tyd vir die HERE om op te tree – hulle maak u wet kragteloos. Daarom het ek u bevele lief, ja, meer as goud, as suiwer goud. Daarom volg ek alle opdragte oor alles; elke pad van bedrog haat ek.