Nie lank daarna nie het Maria haastig na 'n stad in Judea gegaan, na 'n plek op die berge. Sy het in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. Toe Elisabet hoor dat Maria haar groet, het die baba wat binne-in haar was, geskop. Die Heilige Gees het in Elisabet gekom en sy het opgewonde gesê: “Maria, die Here seën jou, meer as vir al die ander vroue. Hy seën ook die kind wat in jou is. Dit is vir my wonderlik dat jy na my toe gekom het, jy, die ma van my Here. Toe jy my groet en ek jou stem hoor, was die kind binne-in my baie bly, en hy het geskop. Jy sal gelukkig wees, want jy het geglo dat die Here sal doen wat Hy vir jou belowe het.”
Toe het Maria gesê:
Ek prys die Here
met my hele hart.
My hart is bly oor God
wat my red.
Hy het my gesien en gehelp,
vir my, sy nederige dienaar.
Van nou af sal al die mense sê
ek is baie gelukkig,
want God wat alles kan doen,
het wonderlike dinge
vir my gedoen.
Sy Naam is heilig.
Hy sal altyd goed wees
vir die mense wat Hom eer.
Hy het gewys Hy is sterk.
Hy het die hoogmoedige mense
weggejaag na al die kante toe.
Hy het konings laat ophou regeer,
maar Hy het mense
wat nie belangrik is nie,
belangrik gemaak.
Hy het vir honger mense
genoeg kos gegee,
maar vir die ryk mense
het Hy niks gegee nie.
Hy het sy volk Israel gehelp,
Hy het onthou dat Hy belowe het
om goed te wees vir hulle,
vir ons voorvaders,
vir Abraham en sy nageslag,
vir altyd.
Maria het omtrent drie maande by Elisabet gebly, en toe het sy teruggegaan na haar huis.
Toe Elisabet se baba later gebore is, was dit 'n seuntjie. Haar bure en familie het gehoor dat die Here goed was vir haar en hulle was baie bly saam met haar. Op die agste dag het die mense gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom Sagaria noem. Dit was ook sy pa se naam. Maar sy ma het gesê: “Nee, sy naam moet Johannes wees.”
Die mense het vir haar gesê: “Daar is niemand in jou familie wat die naam Johannes het nie.”
Hulle het met gebare vir Sagaria gevra wat hy die seuntjie wil noem. Sagaria het gesê hulle moet vir hom 'n skryfbordjie gee en hy het daarop geskryf: “Sy naam is Johannes.”
Almal was verbaas. Sagaria kon dadelik weer praat, en hy het God geprys. Al die mense wat daar naby gewoon het, was verbaas en bang. Al die mense het gepraat oor alles wat gebeur het, ook die mense wat in die berge in die provinsie Judea gewoon het.
Almal wat daarvan gehoor het, het daaroor gedink en gesê: “Ons wonder wat sal hierdie seuntjie eendag doen.”
Almal kon sien die Here was by Johannes.
Die Heilige Gees het gekom in Sagaria, Johannes se pa. Sagaria het gepraat soos die profete en hy het gesê:
Ons prys die Here,
die God van Israel,
want Hy het na sy volk toe gekom
en Hy het hulle vrygemaak.
Hy het vir ons
'n sterk Redder gestuur,
'n Man van die nageslag
van koning Dawid, sy dienaar.
Die Here het belowe
Hy sal dit doen.
Sy gewyde profete
het dit lank gelede gesê.
Die Here red ons van ons vyande
en van die mense wat vir ons haat.
Hy het nou gedoen wat Hy
vir ons voorvaders belowe het
toe Hy gesê het Hy sal
goed wees vir hulle.
Hy het onthou dat Hy
'n gewyde verbond
gemaak het met hulle.
Die Here het vir ons
voorvader Abraham belowe
dat Hy ons sal red
van ons vyande.
Hy het gesê ons sal nie
bang wees nie,
ons sal Hom aanbid,
ons sal net vir Hom dien
en altyd lewe soos Hy wil hê.
En jy, kindjie, jy sal 'n profeet
wees van die Hoogste God.
Jy sal die pad gereedmaak
vir die Here, en dan sal Hy kom.
Jy sal vir sy mense vertel
dat God hulle sonde vergewe
en dat Hy hulle so sal red.
God sal dit alles doen
omdat Hy baie goed wil wees
vir die mense wat
aan Hom behoort.
Die Here sal na ons toe kom.
Hy sal die son wees wat uit
die hemel kom en op ons skyn.
Sy lig sal skyn oor almal
wat in die donker is,
oor almal wat in die diep
donker is.
Die Here sal ons lei,
en daar sal vrede wees.
Johannes het groot geword, sy liggaam en sy gees het sterk geword. Hy het in die woestyn gewoon totdat hy begin preek het vir die mense van Israel.