Rehabeam, seun van Salomo, was koning in Juda. Rehabeam was een-en-veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sewentien jaar lank as koning geheers in Jerusalem, die stad wat die HERE gekies het uit al die stamme van Israel om sy Naam daar te vestig. Die naam van Rehabeam se moeder was Naäma, die Ammoniet. Juda het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hulle het Hom nog meer ontstel met die sondes wat hulle gedoen het as alles wat hulle voorouers gedoen het. Ook hulle het vir hulleself offerhoogtes, gedenkstene en asjeras opgerig op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom. Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die mense het al die afstootlike dade van die nasies wat die HERE voor die Israeliete uit verdryf het, nagedoen. In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam trek Sisak, die koning van Egipte, toe op teen Jerusalem. Hy het die skatte van die huis van die HERE en die skatte van die koninklike paleis gevat; dit alles het hy gevat. Hy het ook al die goue skilde wat Salomo gemaak het, gevat. Koning Rehabeam het toe in die plek daarvan bronsskilde gemaak. Hy het dit toevertrou aan die bevelvoerders van die hardlopers wat die ingang na die koninklike paleis bewaak het. Telkens wanneer die koning die huis van die HERE binnegegaan het, het die hardlopers dit gedra en dit daarna weer teruggeneem na die wagkamer van die hardlopers. Die verdere geskiedenis van Rehabeam, en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. Rehabeam het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers begrawe in die Stad van Dawid. Sy moeder se naam was Naäma, die Ammoniet. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.
Lees 1 Konings 14
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 Konings 14:21-31
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's