1 Konings 14:21-31

1 Konings 14:21-31 DB

Rehabeam die seun van Salomo was 41 toe hy koning geword het en hy het sewentien jaar lank in Jerusalem regeer. Dit is die stad wat die Here gekies het om in te woon en aanbid te word. Rehabeam se ma, Naäma, was ’n vrou uit Ammon. Juda het die Here diep teleurgestel. Hulle ongehoorsaamheid was vir Hom ’n groot skande. Hulle was erger as enige geslag voor hulle. Hulle het op baie hoë plekke in die berge altare gebou en klippilare en beelde van die godin Asjera daar opgerig. Hulle het onder elke groen boom saamgekom en offers vir ander gode gebring. Daar was selfs prostitute by daardie offerplekke. Die mense van Juda het presies gedoen soos daardie volke wat die Here destyds uit Kanaän verdryf het sodat Israel in die land kon woon. In die vyfde jaar van Rehabeam se regering het koning Sisak van Egipte teen Jerusalem opgeruk. Sisak het in die tempel ingegaan en alles gevat. Hy het al die paleis se skatte weggeneem, ook die goue skilde wat Salomo nog gemaak het. Rehabeam het toe koperskilde in die plek van die ander gemaak. Hy het dit vir die wagte gegee wat die ingang van die paleis moes bewaak. Elke keer as Rehabeam na die tempel toe gegaan het, het die wagte die koperskilde gedra. Na die tyd het hulle dit weer in die paleis se stoorkamers gaan terugsit. Alles wat Rehabeam gedoen het, is in ’n belangrike boek Die lewe en werk van al Juda se konings opgeteken. Rehabeam en Jerobeam het omtrent heeltyd oorlog teen mekaar gemaak. Rehabeam is dood en is in Jerusalem in die familiegraf begrawe. Sy ma was Naäma, ’n vrou uit Ammon. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Konings 14:21-31