2 Konings 13:10-21

2 Konings 13:10-21 AFR20

In die sewe-en-dertigste regeringsjaar van Jehoas, die koning van Juda, het Joas, seun van Joagas, in Samaria koning geword oor Israel, sestien jaar lank. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE. Hy het nie afgewyk van al die sondes waarmee Jerobeam, seun van Nebat, Israel laat sondig het nie. Hy het daarmee volgehou. Die verdere geskiedenis van Joas, alles wat hy gedoen het, en sy magtige dade, hoe hy geveg het teen Amasia, die koning van Juda, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel nie? Joas het by sy voorouers gaan rus. Toe het Jerobeam op sy troon gaan sit. Joas is in Samaria begrawe by die konings van Israel. Elisa was reeds siek aan die kwaal waaraan hy sou sterf. Joas, die koning van Israel, het na hom toe afgegaan, in sy teenwoordigheid gehuil en gesê: “My vader, my vader, strydwa van Israel en sy perde!” Elisa sê toe vir hom: “Kry 'n boog en pyle!” Hy kry toe vir hom 'n boog en pyle. Daarop sê hy vir die koning van Israel: “Hou die boog gereed!” Toe hy dit gereedhou, lê Elisa sy hande op die koning se hande. Hy sê toe: “Maak die venster aan die oostekant oop!” Hy het dit oopgemaak. Daarop sê Elisa: “Skiet!” Hy skiet toe. “'n Pyl van oorwinning vir die HERE, 'n pyl van oorwinning teen Aram,” het Elisa gesê. “Jy sal Aram in Afek heeltemal verslaan.” Daarop sê hy: “Neem die pyle!” Hy het dit geneem. “Slaan teen die grond!” sê hy toe vir die koning van Israel. Hy slaan toe drie maal en hou op. Die man van God het hom bloedig vererg vir hom en sê: “Jy moes vyf of ses keer geslaan het, dan sou jy Aram heeltemal verslaan het; maar nou sal jy Aram net drie keer verslaan.” Elisa het toe gesterf en hulle het hom begrawe. Moabitiese roofbendes het met die aanbreek van die jaar die land binnegeval. Terwyl mense besig was om 'n man te begrawe, sien hulle skielik die bende. Hulle gooi toe die man in die graf van Elisa en gee pad. Toe die man aan Elisa se beendere raak, het hy lewendig geword en regop gaan staan.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 13:10-21