Kolossense 3:1-17

Kolossense 3:1-17 AFR20

As julle dan saam met •Christus opgewek is, streef na dit wat daarbo is, waar Christus aan die regterhand van God sit. Bedink die dinge daarbo, nie die dinge op aarde nie. Julle het immers gesterf, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus verskyn, Hy wat julle lewe is, sal julle ook saam met Hom in heerlikheid verskyn. Daarom moet julle daardie deel van julle wat op die aardse gerig is, doodmaak: onsedelikheid, onreinheid, wellus en slegte begeertes, en ook gierigheid, wat afgodediens is. As gevolg van sulke dinge, kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. Ook julle het vroeër daaraan meegedoen, toe julle nog onder hulle geleef het. Maar raak ook julle van al hierdie dinge ontslae: woede, driftigheid, kwaadwilligheid, lastering, en onwelvoeglike taal wat uit julle mond kom. Moenie vir mekaar lieg nie, aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, en die nuwe mens aangetrek het, wat tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word. By die nuwe mens is daar nie onderskeidings soos Griek of Jood, besnedene of onbesnedene, barbaar of Skittiër, slaaf of vry persoon nie, maar Christus is alles en in almal. Daarom, omdat julle God se uitverkore •heiliges en geliefdes is, beklee julleself met innige meelewing, goedheid, nederigheid, sagmoedigheid en geduld. Verdra mekaar en, as enigiemand 'n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe. Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer. As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar. Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon. Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms, lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus, terwyl julle God die Vader deur Hom dank.