Daarop het Daniël ingegaan na Ariog, vir wie die koning aangestel het om die wyses van Babilonië om die lewe te bring. Hy het so vir hom gesê: “Moenie die wyse manne van Babilonië om die lewe bring nie; bring my voor die koning, dan sal ek vir die koning die uitleg gee.” Ariog het toe in groot haas vir Daniël voor die koning gebring en so vir hom gesê: “Ek het 'n man gevind onder die ballinge van Juda wat die uitleg aan die koning bekend kan maak.”
Die koning het daarop geantwoord deur vir Daniël, wie se naam Beltsasar was, te sê: “Is jy in staat om die droom wat ek gehad het en sy uitleg aan my bekend te maak?” Daniël het in die teenwoordigheid van die koning geantwoord en gesê: “Die geheim waaroor die koning navraag doen, kan die wyses, towenaars, waarsêerpriesters en voorspellers nie vir die koning uitlê nie. Daar is egter 'n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het aan u, koning Nebukadnesar, bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom, die visioene in u kop terwyl u in u bed was, is die volgende: U, o koning – u gedagtes wat in u bed by u opgekom het, gaan oor wat hierna sal gebeur. Hy wat geheime openbaar, het aan u bekend gemaak wat sal gebeur. En wat my betref, hierdie geheim is aan my geopenbaar, nie deur wysheid wat by my meer sou wees as by al die lewendes nie, maar ter wille daarvan dat die uitleg aan die koning bekend gemaak sal word, en u die gedagtes van u hart kan ken. U, o koning, het 'n visioen gehad: Kyk, daar was 'n groot beeld. Hierdie beeld was groot, en sy glans buitengewoon. Dit het voor u gestaan; die voorkoms daarvan was vreesaanjaend. Hierdie beeld – sy kop was van die beste goud, sy bors en arms was van silwer, sy maag en heupe van koper, sy bene van yster, sy voete deels van yster en deels van klei. U het nog gekyk, toe daar 'n klip vanself losbreek, nie deur die toedoen van mensehande nie. Dit het die beeld teen sy voete van yster en klei getref en verpletter. Daarop is die yster, koper, silwer en goud saam verpletter, en dit het geword soos kaf vanaf die dorsvloere in die somer. Die wind het dit weggewaai, en geen spoor daarvan kon gevind word nie. Maar die klip wat die beeld getref het, het 'n groot berg geword en die hele aarde gevul.