Daniël 2:24-35

Daniël 2:24-35 DB

Daniël is toe daar weg na Arjok toe wat die opdrag gehad het om al die koninklike raadgewers dood te maak. Hy sê toe vir hom: “Moenie die raadgewers doodmaak nie. Vat my na die koning toe. Ek sal sy droom se betekenis vir hom verduidelik.” Arjok het dadelik vir Daniël na koning Nebukadnesar toe gevat en vir hom gesê: “Ek het tussen die Judese gevangenes iemand gekry wat U Majesteit se droom kan verduidelik.” Die koning het vir Daniël, wat ook Beltsasar genoem is, gevra: “Is dit waar? Kan jy regtig vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken?” Daniël het geantwoord: “Daar is geen raadgewer, waarsêer of sterrevoorspeller wat in staat is om te doen wat u verwag nie. Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime bekend kan maak. Hy het in die droom aan u, koning Nebukadnesar, kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Daarom sal ek nou vir u vertel wat die gesig beteken wat u in u droom gesien het. “Terwyl U Majesteit geslaap het, het u oor die toekoms gedroom. God wat sulke geheime bekend kan maak, het vir u gewys wat in die toekoms gaan gebeur. Nou, die rede waarom ek u droom kan uitlê, is nie omdat ek slimmer is as enige ander mens nie, maar omdat God wou hê dat u moet weet wat die betekenis van die droom was. U moet verstaan waaroor u gedink het. “U Majesteit het in u droom ’n groot beeld gesien wat voor u staan. Dit was hoog en blink; iets skrikwekkends. Die beeld se kop was van soliede goud; sy bors en arms van silwer en sy maag en heupe van brons; sy bene was van yster. Sy voete was een deel van yster en ’n ander deel van klei gemaak. Terwyl u nog so na die beeld kyk, het ’n rots op ’n bonatuurlike manier van die berg af losgebreek en teen die voete van yster en klei vasgerol en hulle totaal verwoes. Die hele beeld het inmekaargeval in ’n hoop yster, klei, brons, silwer en goud. Die rots het dit alles fyngerol soos kaf op ’n dorsvloer. Die wind het opgekom en alles weggewaai sonder dat ’n spoor daarvan oorgebly het. Daarna het die klip begin groei totdat dit ’n berg geword het wat die hele aarde volgemaak het.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Daniël 2:24-35