Eksodus 29:4-21

Eksodus 29:4-21 AFR20

Aäron en sy seuns moet jy na die ingang van die •Tent van Ontmoeting laat nader kom en hulle met water afspoel. Jy moet die klere neem en vir Aäron die priesterrok, die mantel van die efod, die efod en die borstas aantrek, en dan vir hom die efod styf vasmaak met die band. Jy moet die tulband op sy kop sit en die heilige wydingsteken op die tulband vassit. Jy moet die salfolie neem, dit oor sy kop uitgiet en hom salf. Dan moet jy sy seuns laat nader kom, hulle priesterrokke vir hulle aantrek en die lyfserpe vir hulle, Aäron en sy seuns, ombind. Jy moet hulle kopdoeke vir hulle vasbind. Die priesterdiens sal hulle s'n wees as 'n vaste voorskrif wat altyd geld. So moet jy Aäron en sy seuns wy. “Jy moet die bul tot voor die Tent van Ontmoeting bring. Aäron en sy seuns moet hulle hande op die bul se kop plaas, en dan moet jy die bul voor die HERE slag by die ingang van die Tent van Ontmoeting. Jy moet van die bul se bloed neem en dit met jou vinger aan die horings van die altaar smeer. Die res van die bloed moet jy teen die basis van die altaar uitgooi. Jy moet al die vet wat die binnegoed bedek, neem, ook die lewerlob en die twee niere met die vet daaraan, en dit op die altaar verbrand. Maar die vleis van die bul, sy vel en sy pensmis moet jy buite die kamp verbrand. Dit is 'n •reinigingsoffer. Die een ram moet jy neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die kop van die ram lê. Dan moet jy die ram slag, sy bloed neem en dit reg rondom teen die altaar sprinkel. Die ram moet jy in stukke opsny, sy binnegoed en pote afspoel, en dit by die stukke en sy kop neersit. Jy moet die hele ram op die altaar verbrand. Dit is 'n •brandoffer vir die HERE. Dit is 'n geurige offer, 'n offergawe aan die HERE. Jy moet die tweede ram neem, en Aäron en sy seuns moet hulle hande op die kop van die ram lê. Dan moet jy die ram slag, van sy bloed neem en dit aan Aäron se regteroorlel smeer, ook aan dié van sy seuns, aan die duime van hulle regterhande en aan die groottone van hulle regtervoete. Jy moet die res van die bloed reg rondom teen die altaar sprinkel. Jy moet van die bloed wat teen die altaar is, neem, en ook van die salfolie, en dit op Aäron en sy klere sprinkel, en ook op sy seuns by hom en op sy seuns se klere. Hy en sy klere en saam met hom sy seuns en hulle klere sal dan heilig wees.