Habakuk 2:1-19

Habakuk 2:1-19 AFR20

Op my wagpos wil ek gaan staan; ek wil stelling inneem op die vestingmuur, op die uitkyk wees om agter te kom wat Hy vir my gaan sê en wat ek mense moet antwoord oor my verwyt. Die HERE het my toe geantwoord; Hy het gesê: “Skryf die openbaring neer; skryf dit duidelik op kliptafels, sodat iemand dit maklik kan lees. Want die visioen wag nog vir die vasgestelde tyd; dit getuig van die einde en sal nie teleurstel nie. As dit talm, wag daarop, want dit kom vir seker, dit sal nie uitbly nie. Kyk, hy wat nie opreg is nie, kwyn weg – maar die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe. Buitendien, wyn is verraderlik. Die sterke is vermetel, maar hy sal nie sy doel bereik nie, hy wat sy keel so wyd oopsper soos die •doderyk, hy wat soos die dood is, wat nie versadig word nie, wat al die nasies by hom versamel het, en al die volke om hom bymekaargemaak het. “ Sal juis hulle nie almal saam oor hom 'n spotlied laat opklink nie, ja, 'n spreuk, raaisels oor hom? Daar sal gesê word, ‘Wee hom wat dít vermeerder wat nie aan hom behoort nie – hoe lank nog? – wat homself met bruikleen belas. Sal dié wat van jou rente gaan eis, nie skielik opstaan nie, ja, dié vir wie jy beangs is, wakker skrik, en jy dan die buit vir hulle word? Omdat jy baie nasies geplunder het, sal al die volke wat oorbly, jou plunder oor die bloedvergieting van mense, die geweld teen lande, stede en almal wat daar woon.’ “ Wee hom wat onregverdige wins maak vir sy huis, om sy nes in die hoogte te bou en homself van die mag van onheil te red. “Jy het skande bewerk vir jou huis; deur 'n einde te maak aan baie volke, het jy jou lewe verbeur. Want klippe roep uit die mure om hulp, en balke uit die houtwerk antwoord hulle. “ Wee hom wat stede bou met bloed, en dorpe vestig met onreg. Kyk, is dit nie die HERE, Heerser oor alle magte, wat dit beskik, dat volke hulle afsloof vir wat opgaan in rook, en nasies hulleself moeg maak vir niks nie? Ja, die aarde sal gevul word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos water die see oordek. “Wee hom wat sy medemens laat drink, wat sy gif daarby voeg, hulle selfs dronk maak, sodat hy hulle geslagsdele kan bekyk. Ja, jy gaan met skande versadig word, in plaas van eer. Drink jy ook, en ontbloot jouself! Die beker in die regterhand van die HERE sal by jou verbykom, en skande sal jou eer oortref. Want die geweld teen Libanon sal jou oorweldig en die vernietiging van diere sal jou beangs laat, ja, die bloedvergieting van mense, die geweld teen lande, stede en almal wat daar woon. “ Watter nut het 'n gesnede beeld as sy maker hom uitgekerf het? Dit is 'n gegote beeld en 'n leermeester van leuens. Ja, hy vertrou op die maaksel wat hy self geskep het. Wat baat dit om stom, nuttelose afgodsbeelde te maak? Wee hom wat vir 'n stuk hout sê, ‘Word tog wakker!’ en ‘Staan op!’ vir 'n stom klip. Kan dié ding jou iets leer? Kyk, hy is wel oorgetrek met silwer en goud, maar daar is geen lewensasem in nie.