LEVÍTIKUS 23:10-14

LEVÍTIKUS 23:10-14 AFR53

Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die HERE beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg. Julle moet ook op die dag as julle die gerf beweeg, 'n jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer aan die HERE berei, en die spysoffer wat daarby behoort, twee-tiendes van 'n efa fynmeel met olie gemeng as vuuroffer aan die HERE, 'n lieflike geur, en daarby die drankoffer van wyn, 'n kwart hin. En julle mag geen brood of gebraaide koring of vars graan eet tot daardie selfde dag toe nie, totdat julle die offer van julle God bring. Dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.