LEVITIKUS 23:10-14

LEVITIKUS 23:10-14 AFR83

“Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, en julle samel die graanoes in, moet elkeen die eerste ryp are van sy oes na die priester toe neem. Hy moet die are as beweegoffer vir My, die Here, aanbied sodat julle vir My aanneemlik sal wees. Die priester moet dit die dag ná die sabbat doen. Wanneer julle die are as beweegoffer aanbied, moet julle ook 'n jaaroud lam sonder liggaamsgebrek as brandoffer aan die Here bring, sowel as 'n graanoffer van drie kilogram meel aangemaak met olyfolie. Dit is 'n offer wat deur My, die Here, aanvaar word. Daarby moet een liter wyn as drankoffer gebring word. Voor hierdie dag waarop julle die offer aan julle God bring, mag julle nog niks van die nuwe graan gebruik nie, nie gebak of gebraai of rou nie. Dit moet 'n vaste instelling vir julle hele nageslag wees, waar julle ook al woon.