LUKAS 1:39-80

LUKAS 1:39-80 AFR53

EN in daardie dae het Maria opgestaan en haastig na die bergstreek gegaan, na 'n stad van Juda; en sy het in die huis van Sagaría gekom en Elisabet gegroet. En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees en het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die vrug van jou skoot! En wat het my oorgekom dat die moeder van my Here na my toe kom? Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. En salig is sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is, sal vervul word. EN Maria het gesê: My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker; omdat Hy die nederige toestand van sy diensmaagd aangesien het; want kyk, van nou af sal al die geslagte my salig noem. Want Hy wat magtig is, het groot dinge aan my gedoen, en heilig is sy Naam. En sy barmhartigheid is van geslag tot geslag vir die wat Hom vrees. Hy het deur sy arm kragtige dade gedoen. Hoogmoediges in die gedagtes van hulle hart het Hy verstrooi. Maghebbers het Hy van trone afgeruk en nederiges verhoog. Hongeriges het Hy met goeie dinge vervul en rykes met leë hande weggestuur. Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink — soos Hy tot ons vaders gespreek het — aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid. En Maria het by haar omtrent drie maande gebly; en sy het teruggegaan na haar huis toe. EN die tyd dat sy moeder moes word, is vir Elisabet vervul, en sy het 'n seun gebaar. En toe haar bure en bloedverwante hoor dat die Here sy barmhartigheid aan haar groot gemaak het, was hulle saam met haar bly. En op die agtste dag het hulle gekom om die kindjie te besny, en hulle wou hom Sagaría noem, na die naam van sy vader. Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word. En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie. En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word. Hy vra toe 'n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam. En almal was verwonderd. En onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof. En daar het vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het, en daar is baie gepraat oor al hierdie dinge in die hele bergstreek van Judéa. En almal wat dit gehoor het, het dit ter harte geneem en gesê: Wat sal tog van hierdie kindjie word? En die hand van die Here was met hom. EN Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê: Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, en 'n horing van heil vir ons opgerig het in die huis van Dawid, sy kneg — soos Hy gespreek het deur die mond van sy heilige profete van ouds af — redding van ons vyande en uit die hand van almal wat vir ons haat, om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink, aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe. En jy, kindjie, sal 'n profeet van die Allerhoogste genoem word, want jy sal voor die aangesig van die Here uitgaan om sy weë reg te maak; om kennis van saligheid aan sy volk te gee in die vergifnis van hulle sondes, deur die innige barmhartigheid van onse God waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig. En die kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees; en hy was in die woestyne tot op die dag van sy vertoning aan Israel.