1 Korintiërs 10:23-31

1 Korintiërs 10:23-31 DB

As ’n mens byvoorbeeld vleis kry wat aan afgode geoffer is, sou die gelowige kon redeneer: “Ek mag alles doen.” Maar dan moet hy die tweede deel van hierdie sin onthou: “Nie alles is goed om te doen nie.” Dié wat so spog dat hulle alles mag doen, moet onthou dat dit wat ’n mens doen, vir ander mense ook iets moet beteken. Jy moet nie net altyd aan jouself dink nie. Jy hoef nie ’n “afgodstoets” te doen op kos wat jy koop nie. Jou gewete hoef jou ook nie te pla as jy dit nie gedoen het nie. Want onthou, “die hele aarde met elke ding daarop, klein of groot, is die Here s’n”. En dit bly so, al word die vleis kamma vir ’n afgod geoffer. As ’n nie-Christen jou uitnooi om by hom te kom eet en jy wil dit graag doen, eet wat hy jou gee om te eet. Moenie allerhande spoke opjaag deur te begin wonder of die kos dalk op die een of ander manier met afgode te doen het nie. Jou gewete hoef jou glad nie te pla nie. As die nie-Christen egter doelbewus vir jou sê dat daardie kos van sy afgode af kom, moet jy nie jou mond daaraan sit nie. As jy dit eet, sal dit die nie-Christen onder die indruk bring dat jy nie omgee om sy afgod te dien nie; dit sal dan sy gewete ry. Nou kan ’n mens natuurlik vra waarom ’n ander man se gewete vir my moet voorskryf wat ek mag doen en wat ek nie mag doen nie. As ek vir God dankie sê vir die kos en lekker eet, hoe kan iemand dan sê dat dit verkeerd is om die kos te eet? Deur daarvoor dankie te sê erken ek mos dat dit van God af kom. Laat ek dit so stel: alles wat julle doen, of julle nou iets eet of drink, moet julle doen sodat mense kan raaksien hoe belangrik God is.

Gratis leesplanne en oordenkings oor 1 Korintiërs 10:23-31