Hoe verlang ek nie daarna om u hand op my skouer te voel nie;
ek wag heeldag op u troos.
Ek sien uit na die dag wat U u belofte waar maak.
Elke dag vra ek: “Hoe lank nog voordat U my kom help?”
Ek kry baie swaar, dit voel of my lewe in die vuur lê en brand.
Tog vergeet ek nie om te doen wat U vra nie.
Hoe lank sal hierdie swaarkry nog aanhou?
Wanneer klim U ’n slag in onder almal wat dit vir my so moeilik maak?
Daardie slegte spul wat nie na U luister nie, probeer my vernietig.
Ek is onskuldig; ek doen net wat U sê.
Help my, Here, want ek word vervolg sonder dat ek dit verdien.
Slegte mense het my amper doodgemaak, maar ek hou aan om na U te luister.
U is so goed vir my; daarom vra ek:
Laat my lewe sodat ek kan aanhou doen wat U sê.
Here, alles wat U sê, gebeur presies net so in die hemel: altyd.
U goedheid raak nooit uit die mode nie.
U het net ’n woord gesê, toe staan die aarde daar!
Alles wat U gemaak het, bestaan tot vandag toe. Alles buig voor U.
As u Woord vir my nie soveel blydskap gebring het nie, het ek al lankal moed opgegee.
So lank as wat ek leef, sal ek u voorskrifte in my hart bêre,
want hulle het my lewe gered.
Ek is U s’n, van kop tot tone.
Red my, want ek wil elke dag agter U aanstap.
Slegte mense staan reg om my dood te maak, maar ek doen net wat U sê.
Alles wat mense doen, hoe goed dit ook al is, is vol foute,
maar dit wat U in die wet sê, is foutloos; dit hou vir altyd!
Ek kan nie vir U sê hoe lief ek vir al u voorskrifte is nie! Ek dink dag en nag daaroor.
Dit gee my ’n groot voorsprong bo al my vyande,
niemand kan ooit my kennis van u Woord wegvat nie.
Ek weet baie meer oor U as hulle wat my van U geleer het,
want u Woord is my hele lewe.
Ek is verstandiger as al die ou mense omdat ek u Woord in my hart wegbêre.
Ek systap die sonde omdat ek graag wil doen wat U sê.
Afdraaipaaie ken ek nie, want U het my geleer hoe om te leef.
Daar’s niks beter as u Woord nie, dit is soeter as die soetste heuning.
U voorskrifte het my geleer hoe om die lewe te bemeester; daarom haat ek leuens.
U Woord wys my presies hoe ek moet leef,
soos ’n helder lig skyn dit op die donker pad waarop ek stap.
Ek het U belowe dat ek net sal doen wat U sê,
ek sal nooit teruggaan op my beloftes nie. Wat u sê, is reg.
Here, dit gaan nou baie sleg met my. Kom help my tog, soos U belowe het.
Hoor hoe ek U loof en prys.
Leer my wat reg en verkeerd is.
My lewe is in gevaar, maar ek vergeet nie wat U in die wet sê nie.
Slegte mense wil my laat afdwaal van u pad af,
maar ek wyk nie ’n sentimeter daarvan af nie.
U voorskrifte is myne, vir altyd,
hulle maak my lewe tot oorlopens toe vol met blydskap.
Met my hele lewe wil ek net doen wat U sê,
elke dag, van nou af tot die einde toe.
Ek hou niks van skynheiliges nie, maar ek het u wet baie lief.
By U kruip ek weg, want U is baie sterk, U pas my goed op.
Ek wag op u Woord om my sterk te maak.
Julle spul slegte mense moet dadelik padgee sodat ek kan doen wat my God sê.
Here, hou my hand styf vas soos U beloof het, dan sal ek voluit lewe.
Moenie my teleurstel nie, kyk dan net hoe glo ek in U.
Hou my regop, dan is alles in orde, dan sal ek doen wat U sê.
U hou niks van mense wat nie na U luister nie.
Hulle praat ’n spul leuens.
U vee goddelose mense van die aarde af soos ’n klomp rommel;
daarom is ek so lief vir u Woord. Ek het baie groot respek vir U.
Dit wat U doen, vul my met ontsag.
Ek het nog altyd gedoen wat reg is, moenie dat my vyande my beetkry nie.
Kies asseblief my kant, goeie God,
moenie dat mense wat te veel van hulleself dink, my uitbuit nie.
Ek sien baie uit na die dag dat U my kom help,
ek hou vas aan u belofte dat U net doen wat reg is.
Tree asseblief in liefde teenoor my op, wys my hoe ek moet lewe.
Onthou, ek is u dienskneg,
wys my wat dit presies beteken sodat ek kan doen wat reg is.
Here, vat daardie spul vas wat u wet oortree.
Ek het u voorskrifte met my hele lewe lief,
dit beteken meer vir my as al die goud in die wêreld.
Daarom doen ek alles wat U sê tot in die fynste besonderhede.
Maar verkeerde dinge, dit haat ek.