GALASIËRS 4:14-20

GALASIËRS 4:14-20 AFR83

En al was my toestand vir julle 'n versoeking om my te verag of selfs te verfoei, het julle dit nie gedoen nie. Inteendeel, julle het my ontvang asof ek 'n engel van God was, ja, asof ek Christus Jesus self was. Julle was so bly daaroor. Wat het nou van julle blydskap geword? Dít kan ek van julle getuig: As dit moontlik was, sou julle julle oë uitgeruk en vir my gegee het. Het ek dan nou julle vyand geword deurdat ek die waarheid aan julle voorhou? Daardie mense se ywer vir julle is nie met suiwer bedoelings nie. Hulle wil julle van my losmaak sodat julle julle vir hulle saak sal beywer. Om jou vir 'n goeie saak te beywer, is goed, maar dan moet dit altyd die geval wees en nie net as ek by julle is nie. My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry. Ek wens ek kon nou by julle wees en op 'n ander toon met julle praat. Ek is werklik besorg oor julle.