LUKAS 11:1-23

LUKAS 11:1-23 AFR83

Jesus was êrens op 'n plek besig om te bid. Toe Hy klaar was, sê een van sy dissipels vir Hom: “Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy volgelinge geleer het.” En Hy sê vir hulle: “Wanneer julle bid, sê dan: “Vader, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom. Gee ons elke dag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons sondes, want ons vergewe ook elkeen wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie.” Verder sê Hy vir hulle: “Sê nou een van julle het 'n vriend, en jy gaan in die middel van die nag na hom toe en jy vra: ‘Vriend, leen my bietjie drie brode, want 'n vriend van my wat op reis is, het by my aangekom, en ek het niks om vir hom voor te sit nie.’ En die ander antwoord van binne af: ‘Moet my nie lastig val nie! Die deur is al gesluit, en ek en my kinders is al in die bed. Ek kan nie opstaan om dit vir jou te gee nie ...’ Ek sê vir julle: Al sou hy nie opstaan en dit vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog opstaan en hom alles gee wat hy nodig het, omdat hy hom nie skaam om aan te hou vra nie. “Ek sê vir julle: Vra, en vir julle sal gegee word. Soek, en julle sal kry. Klop, en vir julle sal oopgemaak word. Elkeen wat vra, ontvang, en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word. Is daar 'n pa onder julle wat as sy seun vir hom 'n vis vra, vir hom 'n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy 'n eier vra, vir hom 'n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.” Jesus het op 'n keer 'n bose gees uitgedryf uit iemand wat nie kon praat nie. Net nadat die bose gees uitgegaan het, het die stom man begin praat. Die mense het hulle verwonder, maar party van hulle het gesê: “Dit is met die hulp van Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste, dat hy geeste uitdrywe.” Ander wou Hom op die proef stel deur van Hom 'n wonderteken uit die hemel te vra. Maar Hy het hulle gedagtes geken en vir hulle gesê: “Elke koninkryk wat onderling verdeeld is, gaan te gronde, en 'n huisgesin wat onderling verdeeld is, spat uitmekaar. As die Satan dan teen homself verdeeld is, hoe kan sy ryk bly staan? Julle sê mos Ek dryf bose geeste uit met die hulp van Beëlsebul. As Ek wel deur Beëlsebul bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle eie volgelinge dit dan? Dus, hulle bewys self dat julle verkeerd is. Aangesien Ek dus deur die vinger van God bose geeste uitdryf, het die koninkryk van God inderdaad tot by julle gekom. “Wanneer 'n sterk man hom goed bewapen en sy huis bewaak, is al sy besittings veilig. Maar as daar een kom wat sterker as hy is en hom oorwin, neem hy al die wapens af waarop hy hom verlaat het, en hy verdeel sy besittings as buit. “Wie nie aan my kant is nie, is teen My. En wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.”