Die Groot Storie deur Schalk Holloway, Tienie van Wyngaard en Werner StraussVoorbeeld

Die Groot Storie deur Schalk Holloway, Tienie van Wyngaard en Werner Strauss

DAG 2 VAN 5

Twee funksies van die Bybel

Die Bybel is ’n padwyser na God. Die Bybel word hoofsaaklik as ’n “geloofsboek” aangebied. Alhoewel dit baie akkurate geskiedkundige inligting bevat, is dit nie geskryf om die geskiedenis of natuurwetenskap te bewys nie. Dit is ook nie ’n menswetenskap-boek wat bedoel is om die mens en sy samelewing te bestudeer en te verklaar nie. Die Bybel is eerstens daar as ’n betroubare getuienis van mense wat die Here in hulle omstandighede beleef het. Die Bybel roep jou nie om bloot in die boek self te glo nie, maar om die boodskap van die boek te vertrou en sodoende by God uit te kom. Wanneer jy God die dag ontmoet en ’n verhouding met Hom begin, slaag die Bybel in sy doel om ’n padwyser na God te wees.

Die Bybel getuig van die geestelike komponent van die lewe. Die Bybel wil ook veel verder gaan as om net oor die natuurlike gebeurtenisse van die lewe te berig. Die Bybel wil heenwys na ’n werklikheid wat nie met die blote oog gesien kan word nie. Die Bybel getuig dat die skepping en die lewe ’n sterk geestelike komponent bevat – ’n komponent met sy eie manier van werk; ’n komponent wat ’n baie sterk invloed het op die natuurlike en alledaagse dinge. Die Bybel veronderstel die werklikheid van hierdie geestelike komponent en as gevolg hiervan kan ons in die Bybel daarvan leer.

In die Bybel sal jy antwoorde op van die belangrikste lewensvrae kry:

· Waar kom mense vandaan?

· Is daar lewe ná die dood?

· Wat is regtig belangrik in die lewe?

· Hoe lewe ek in verhouding met God?

· Hoe kan ek eendag ’n suksesvolle huwelik hê?

· Hoe kan ek weet wat reg is en wat waar is in die lewe?

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Die Groot Storie deur Schalk Holloway, Tienie van Wyngaard en Werner Strauss

God se Woord is ons lewensbrood, maar vir die jonger geslag kan dit uitdagend wees om die Bybel te bestudeer. Elke dag van hierdie 5-dag-leesplan bevat gedagtes rondom die Bybel, maar met ’n vars, moderne aanslag, en eindig met ’n Bybelvers. Die inhoud vir hierdie leesplan is gebaseer op Schalk Holloway, Tienie van Wyngaard en Werner Strauss se “Die groot storie”.

More

Ons wil graag Struik Christian Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus:
http://www.struikchristianmedia.co.za