Lydenstyd Reis - Water in Die WoestynVoorbeeld
AANHOU
“Moenie kortpaaie na God toe soek nie. Daar is baie maniere om 'n suksesvolle lewe te lei. Moenie daardeur mislei word omdat baie mense dit doen nie. Die pad na die lewe en God, vereis jou volle aandag.” – Matteus 7:13 (The Message)
Moeder Syncletica het gesê: "Dit is harde werk vir die vroom mens wat bekeer is, maar onbeskryflike vreugde is die resultaat. Iemand wat 'n vuur aansteek, moet eers met die rook sukkel, wat sy oë laat traan, maar uiteindelik brand die vuur. Daar staan geskryf: Ons God is 'n verterende vuur. (Hebreërs 12:29) Daarom moet ons die geestelike vuur in onsself aansteek met geswoeg en trane."
Ons kan soveel energie, geld, beplanning en tyd bestee om gesond te wees, fisies goed te lyk en om ons intellek te ontwikkel. Ons doen moeite met ons verhoudings, ons woon huwelikseminare by en lees boeke om ons verhoudings te verbeter. Maar wat doen ons rakende ons verhouding met God? Dit is die vraag van die woestynmoeder Syncletica. Sy sê dat om 'n verhouding met God te bou aanvanklik nie maklik gaan wees nie. Dit eggo ook die woorde van Jesus: “Die pad na die lewe en God, vereis jou volle aandag.” (Matteus 7:13, MSG). Is dit nie so dat ons deesdae, met ons kitskultuur, te vinnig tou opgooi as ons nie dadelik resultate sien nie? “Uitgestelde genot” en “herhaaldelike beoefening” is nie gewild in ons kultuur nie. Ons probeer ’n nuwe geestelike dissipline soos meditasie of stilte en gooi vinniger tou op as wat ons begin het. Ons dink te gou dat dit nie vir ons bedoel is nie, omdat dit ons nie dadelik genot verskaf nie, dit nie maklik is nie en dat ons dit nie dadelik regkry nie. Ons gee dit nie eens genoeg tyd om pos te vat nie. Ek hoor dikwels die woorde “ek dink nie dis vir my nie, dit werk nie vir my nie, dit laat my nie goed voel nie”. Die pad na geluk, na die deurbraak, gaan dikwels deur trane en deur die ongerief van rook wat in die oë gewaai word. Die aanmoediging is: Hou aan! Gaan deur die ongerief, die pyn en vind die lewe!
“Die rede hoekom so baie godsdienstige mense nie glo hulle kan mediteer nie, is dat hulle dink meditasie gaan oor godsdienstige emosies, gedagtes, denke of gevoelens waarvan 'n mens noukeurig bewus is. Net sodra hulle begin mediteer, delf hulle in die psigologiese gewete om uit te vind of hulle enigiets ervaar wat van waarde is. Hulle vind baie min of glad niks nie. Hulle probeer baie hard om 'n innerlike ervaring voort te bring, of hulle gooi teensinnig tou op.” – Thomas Merton
GEDAGTE VIR DIE DAG
Ek moet langtermyn dink. Ek moet net aanhou.
VIR NADENKE
Het jy al in die verlede met ’n gereelde geestelike dissipline begin en weer opgehou? Hoe het jy gevoel toe jy dit beoefen het? Hoe het jy gevoel toe jy dit laat vaar het? Wat het jy van God ervaar in jou beoefening van die dissipline? Wat het jy nie van God ervaar in die beoefening nie? Vra God om jou die begeerte, die ywer en die genade te gee om Hom te begin volg of aan te hou volg deur daaglikse roetines.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie leesplan sal jou op 'n geestelike reis begelei tydens die 40 dae van die Lydenstyd. Ons volg Jesus die woestyn in. Die woestyn is ’n plek van voorbereiding, beproewing, afsondering, stilte, uitdaging, herskepping, ontdekking en ontmoeting (met jouself en met God). Ons reis oor hierdie 40-dae Lydenstyd met die wysheid van die vroeë Christene wat welbekend was met die woestynlewe.
More
Ons wil Mosaiek bedank vir die aanbieding van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.mosaiek.com/