Pa’s en seunsVoorbeeld
MOEDIG JOU SEUN AAN
Vir my pa het dit geen verskil gemaak of ek in die A-span of in die C-span was nie. Hy het nie omgegee of ek in die A-groep of in die D-groep was nie. Solank ek net my bes gedoen het. My pa was lief vir my net soos ek was, en daarvoor sal ek altyd dankbaar wees. Pa’s, ons moet aan ons seuns ons goedkeuring gee en nie probeer om ons lewe déúr hulle te leef nie.
Wanneer ons die Woord van God lees, sien ons die hemelse Vader het Sy Seun baie hoog geag. “Hý is my geliefde Seun, ’n Kind so na my hart”. (Matt. 3:17) Besef jy wat dit vir Jesus moes beteken het? Dit het vir seker vir Hom die krag gegee om voort te gaan met sy taak hier op aarde.
Ek kon nie al my seuns en dogters se sportbyeenkomste bywoon nie. Ek het hard gewerk om die plaas te vestig en kos op die tafel te sit. Maar wanneer ek kon gaan, was ek daar. Ek probeer nou vir my afwesigheid vergoed deur my kleinkinders te ondersteun.
Ons moet besef ons kinders word in ’n oogwink volwasse en verlaat die huis. Terwyl hulle nog by ons in die huis is, moet ons hulle ondersteun en ons aanvaarding en goedkeuring aan hulle gee wanneer hulle iets goed doen. Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein die prestasie is nie, ons doelwit moet wees om by hulle te staan – en nog meer so wanneer hulle nie sukses behaal nie. Ek dink nie ons as pa’s besef altyd hoe belangrik daardie klop op die skouer of daardie “Knap gedaan, my seun” vir ons kinders is nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
God het pa’s gemaak om die priester, profeet en koning van die huis te wees, asook ’n voorbeeld vir hulle seuns. Angus Buchan moedig pa’s aan om die verhouding met hulle seuns te slyp, te beskerm en te koester, en terselfdertyd ook seuns om hul verhouding met hulle pa te koester. So word ’n belangrike gesinsband versterk, wat ’n groot impak het op die wyer samelewing.
More
Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Angus Buchan bedank vir die verskaffing van hierdie plan: https://www.cumbooks.co.za/