Pa’s en seunsVoorbeeld
RESPEK VIR MEKAAR
Ons moet respek hê vir ons seuns en vir ons pa’s. Respekteer jou pa, ongeag wie hy is of wat hy doen. Betoon respek aan hom. Wanneer jy aan ’n ouer man respek betoon, eer jy ook die Here. Dit is hoe God ons geskep het. Dit is altyd so hartseer om te sien wanneer ’n jong man ’n bejaarde man spot. Dit maak nie saak of hy ’n straatveër of ’n hawelose mens is nie, as hy oud genoeg is om jou pa te wees, moet jy hom met respek behandel.
As jy jong mans se respek wil geniet, word oud met waardigheid. Daar is niks erger as om te sien hoe ’n ouer man probeer om soos ’n jong man op te tree nie. Jong mans hou nie daarvan nie.
Ek onthou so goed wat eenkeer by ’n kerkkamp gebeur het. Ons het sokker gespeel. Ek het besluit om die sokkerbal op te tel en te begin rugby speel. Ek het oor die veld gestorm en al die regte bewegings uitgevoer. As jong man het ek immers redelik goed rugby gespeel. Ek het egter geen spoed gehad nie. Drie jong manne het my van alle kante getakel, en ek het ’n paar ribbes gebreek. Dit was net my eie skuld. Ek moes met waardigheid ouer geword het.
Niks is meer onsmaaklik as wanneer ’n ou man sy spiere vir die jong mans bult nie. Dit is baie vernederend, veral vir die jong mans. Kies om só oud te word dat ander jou steeds respekteer. Onthou hoe oud jy is en tree volgens jou ouderdom op. Dan sal die jong manne rondom jou saamdrom om na jou te luister.
Daar is ’n geweldige tekort aan geestelike pa’s; mans met die wysheid en waardes waarna jong mans ook kan streef. Psalm 37:25 sê: “Ek was jonk, en nou is ek oud. Maar ’n regverdige mens wat verlate is, het ek nog nooit gesien nie, of dat sy kinders vir kos moes bedel nie.”
Wanneer jy volgens jou ouderdom optree, sal jy agterkom jou kinders tree ook volgens hulle ouderdom op. Daar sal geen hongersnood, geen onverantwoordelikheid en geen nodigheid vir drastiese stappe in die huis wees nie. Jou kinders sal verantwoordelikheid aanvaar vir hulle posisie in die huis en in die breër lewe daar buite.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
God het pa’s gemaak om die priester, profeet en koning van die huis te wees, asook ’n voorbeeld vir hulle seuns. Angus Buchan moedig pa’s aan om die verhouding met hulle seuns te slyp, te beskerm en te koester, en terselfdertyd ook seuns om hul verhouding met hulle pa te koester. So word ’n belangrike gesinsband versterk, wat ’n groot impak het op die wyer samelewing.
More
Ons wil graag Christelike Uitgewersmaatskappy en Angus Buchan bedank vir die verskaffing van hierdie plan: https://www.cumbooks.co.za/