Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 10 VAN 21

  JY KAN NIKS DOEN OM SATAN TE KEER NIE 

Klink dit nie wonderlik nie! Ons wil almal die dag sien wanneer die duiwel vernietig sal word. Dan sal ons nie meer so sukkel met finansies en probleme nie. Die kinders sal soet wees en ons huwelike sal uitwerk. Daar sal nie meer versoekings, hartseer en pyn wees nie. 

Voor ons by die einde kom, kom ons begin eers by die begin. Paulus praat van ons gehoorsaamheid aan die evangelie. Dis maklik om te sê jy glo die goeie nuus. Jy glo mos dat jou sonde betaal is en dat jy eendag hemel toe gaan. Maar dis nie waarvan Paulus hier praat nie. Hy praat van gehoorsaamheid. Dit beteken jy moet 

iets doen. Dis iets meer as geloof. Jy sien, geloof is die gevoel diep in jou hart, maar gehoorsaamheid is die dade wat volg as gevolg van jou geloof. 

Het jy al ooit gedink hoe jy die goeie nuus aan mense sal vertel? Is dit net dat Jesus gesterf het en as jy dit glo gaan jy eendag hemel toe? Nee, dis meer as dit. Dis eintlik dat die koninkryk aarde toe gekom het. Dink ’n bietjie na oor die gebed: “ ... laat U koninkryk kom.” Die goeie nuus is, die koninkryk kom nou al, nie eers eendag nie! Jy leef nie eendag anders nie, jy moet dit nou doen. Jy begin nou al op ’n ander manier optree. 

Stel jou voor hoeveel anders Suid-Afrika kan lyk as die koninkryk nou hier tussen ons moes kom. As Paulus skryf hy is so bly oor die gehoorsaamheid aan die evangelie. Hy bedoel eintlik hy is bly om te sien hoe die mense se lewens verander het. 

Dis tog die hele doel van die goeie nuus. Nie ééndag gaan ek dit of dat doen nie. Nóú gaan ek anders lewe, anders met mense praat en my geld anders bestuur. My lewe kan nou reeds betekenis kry en ek kan tevrede wees en lewe met vreugde. Jou kinders en kollegas behoort vandag reeds te sien dat jy in die koninkryk leef. 

As jy elke dag besig is met die regte dinge, dan sal jy al hoe “slimmer” word. Soos Paulus sê, jy sal wyser word in die goeie dinge en nie in die bose dinge nie. Ons word mos die hele tyd gebombardeer met negatiewe dinge. Die media is vol daarvan: Dis op die TV, in flieks, in die koerante. Oral sien jy moord, korrupsie en agteruitgang. As jy nie pasop nie, is dit naderhand al wat jy lees en al wat jy hoor. Jy maak jou kop vol daarvan en die slegte begin in jou gedagtes groei. 

Jy moet dit reg verstaan. Ons is geroep om deel te wees van die hemelse koninkryk, al bly ons op die aarde, al bly ons in Suid-Afrika. God is Koning en Hy bring verandering. Sy regering het ander reëls en beginsels.
As die regte dinge vir jou belangrik is, groei jy in die koninkryk en in dinge met ewigheidswaarde. Dit bring liefde en verandering. 

Dan kry jy die belofte: As jy so lewe sal Satan “onder jou voete verpletter word”. Onthou net, die duiwel is nie bang vir jou nie. Hy skrik nie vir enigiets nie, net vir ’n leefstyl eie aan die koninkryk. Ek weet nie van jou nie, maar ek sien die duiwel redelik baie as ek so rondry. Ek sien hom in korrupsie, in armoede, in onregverdigheid – hy is net mooi oral! 

Ons almal wil hê die omstandighede in Suid-Afrika moet verander, daarom wil ons graag die duiwel verpletter. Ons soek ’n nuwe regering, eerlikheid en liefde in die land. Maar waar begin ’n mens? Jy begin deur jou eie lewe eers onder die vergrootglas te plaas. Dit help nie om met woede, aggressie en veroordeling na alles om jou te kyk nie, jy moet eerder vra hoe kan jy ’n verskil maak deur liefde uit te deel. 

Onthou, liefde is prakties. Dis nie ’n klomp filosofieë of ideologieë nie. Gaan doen dinge wat niemand anders bereid is om te doen nie. Jy weet mos hoe het Moeder Teresa geleef. Sy het die wêreld verander met haar liefde. Wanneer sy aan siekes geraak het, het sy gesê: “I’ve touched the body of Christ.” 

As jy só leef, dan word jy die hande, voete en oë van Jesus. Jy sien raak waar iemand jou nodig het. Jy kyk die boemelaar vir wie niemand wil kyk nie, in die oë. Jy loop na ander mense toe wat swaarkry en jy help waar jy kan. Jy vat aan iemand vir wie almal gril, en jy gee uit jou hart uit. Jy deel liefde uit – sonder dat iemand daarvoor gevra het! 

So, hoe gaan ons die duiwel vernietig? Nie deur die een of ander "march" nie, nie deur oorlog, bestrawwing of so iets nie. Leef maar net die veranderende boodskap uit wat alreeds aarde toe gekom het. Dis nie net ’n Sondag- gewoonte nie, dis nie net ’n soort godsdiens nie, dis ’n leefstyl –’n leefstyl met die regte ritmes. 

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/