Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie Voorbeeld

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

DAG 11 VAN 21

NIE ALMAL HET 'N SPESIALE GAWE GEKRY NIE

In Efesiërs verduidelik Paulus vir ons die krag van die opstanding, en die uitwerking op die kerk en gelowiges. Om dit te verstaan, moet ons 2000 jaar teruggaan. 

Wanneer ’n koning in daardie tyd ’n oorlog gewen het, het hy op sy perd heel voor in die optog gery. Sy hoofmanne en bevelvoerders het langs hom gery. Hulle het ’n vlag gedra; ’n banier met die koning of land se kenteken. Agter hulle was die beste soldate en dan die krygsgevangenes – dis nou die vyande wat verslaan is. Die verloorders het stadig gestap, want hulle voete was in kettings. 

Heel agter was daar natuurlik die buit. Dit was gewoonlik kos, klere, edelgesteentes, perde, bokke, beeste, duiwe, koring – enigiets waardevol wat die wenners by die verloorders kon afneem. Langs die strate was daar ’n gejuig en gejubel. Die mense het te kere gegaan, want die koning en die soldate het teruggekom. Die vroue en kinders was baie bly – die mans en seuns wat gaan veg het, is veilig terug, en hulle het gewen! 

Soms het die mense van die land wat gewen het, die verloorders met tamaties en eiers gegooi! Hulle het hierdie arme gevangenes dan nog verder verkleineer. Partykeer was daar van die wenners se soldate wat krygsgevangenes was en dan het die koning hulle gaan bevry en saamgebring. Hulle was dan ook deel van die parade. 

Daar was altyd gemengde gevoelens, ’n lag met ’n traan. Daar was die groot hartseer van die ouens wat verloor het en dan ook die vreugde van dié wat gewen het en huis toe gekom het. 

Die koning het gewoonlik ’n sekere persentasie van die buit vir die paleis gevat, ’n gedeelte het hy vir homself en die manne wat geveg het gehou, en die res het die volk gekry. Dit is onder die mense uitgedeel sodat almal darem iets kon kry. 

Hierdie parade was ’n massiewe storie in die antieke tyd. Dit was een groot gejuig. Stel jou voor: Dis so iets wat in die geesteswêreld gebeur het toe Jesus uit die dood opgestaan het. Probeer jou voorstel hoe dit gelyk het: Migael en die ander engele was heel voor in die parade. Dan was daar die verloorders – die duiwel, die demone en bose magte wat verslaan is. God se kinders, al die gelowiges, is vrygelaat uit die tronk van sonde en hulle was ook in die parade. Dis fantasties! Ons is nie meer slawe van die sonde, of krygsgevangenes van Satan nie! 

In die Ou Testament was daar net ’n paar mense wat gawes gekry het om iets besonders vir die koninkryk te doen. Hulle was “voltyds” in die bediening. Maar na die opstanding in die Nuwe Testament het almal van hierdie “buit”, hierdie gawes, gekry. Nie net dominees of sekere mense nie, maar elke mens – ek en jy ook! Jy het ’n geskenk gekry én jou hele lewe is verander. 

Jy het miskien al gewonder wat is ’n gawe nou eintlik. ’n Gawe is die vermoë wat jy gekry het om op die een of ander manier iemand se hart aan te raak met dit wat jy doen. Dis wanneer jy iets doen sodat ’n ander mens kontak met die hemel kan maak. Dit gaan oor jou dade van liefde. Jy het ’n gawe gekry as lidmaat van ’n gemeente – om dinge op ’n sekere manier te doen sodat iemand iets van Sy liefde kan ontvang. Sodat ander mense sal kan sê: Ek sien iets van God binne-in jou en daarom wil ek Hom leer ken. Jy móét jou gawes gebruik vir die koninkryk. Jy is eintlik voltyds in die “bediening”, al werk jy by McDonald’s, al is jy ’n boer of ’n mamma wat by die huis bly en kinders grootmaak. 

Dominees en lidmate werk baiekeer teen mekaar. 

Lidmate werk ook teen mekaar as gevolg van jaloesie. Elke deeltjie van die kerk se liggaam het tog sy funksie en elkeen is nodig, anders is die liggaam nie volmaak en heel nie. Ons moet mekaar aanvaar, anders kan die kerk nie die volmaakte liggaam wees nie. 

Kom ons gaan terug na die parade. Hierdie vrou het miskien ’n blou rok gekry, en daardie een ’n silwer kandelaar. Nou is dié vrou ongelukkig, want sy wou eerder die kandelaar gehad het. Net so gaan dit in die kerk. Jy vergelyk dalk jou gawes met die vrou langs jou en jy voel joune is minderwaardig. Maar hoekom sal jy jaloers wees as jy dit verniet gekry het? Deel eerder jou spesiale geskenk met ander, dan sal hulle lewens ook voller wees. 

Partykeer raak jy dalk moedeloos, want jy dink jy sal nooit volmaak wees nie. Maar jy dink onnodig so min van jouself. Jy was dan deel van die parade, en jy weet mos wie het die oorlog gewen! Geniet jou vryheid want jy is nie meer ’n slaaf van sonde nie. Gebruik jou spesiale gawe en lééf in oorwinning! 

Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Dít Het Jesus Nooit Gesê Nie

Daar word baie keer verkeerdelik geglo of oorgedra wat hulle dink Jesus gesê het. Mense glo dan iets wat nie altyd waar is nie. In hierdie leesplan deur skrywer Andries Enslin: “Dít het Jesus nooit gesê nie” word feit en fiksie geskei. Daar word duidelik gesê wat die wêreld glo Jesus sê en wat Hy werklik gesê het.

More

Ons wil graag Andries Enslin en Carpe Diem Media bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek gerus: https://lewensentrum.org.za/