Die Ring. 'n 6-Dag Leesplan Vir Huweliksmaats.Voorbeeld
Ring van Liefde en Respek
Ef. 5: 8-9: Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is.
As ons verwys na die ring waarin ons as huweliksmaats saam met God leef, is dit die plek waar ons leef, lief het en groei. Dit is die plek waar God se lig skyn en waar lewe plaasvind, soos wat God vir die huwelik bedoel het.
Gen. 2:22-25 sê: “En die Here God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ’n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees. En hulle was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie.”
Toe Adam die eerste keer vir Eva gesien het, het hy met haar geÏdentifiseer – hulle het ‘n verwantskap gehad (been van my gebeente en vlees van my vlees). Hulle het gemeenskap gehad (een vlees). Hulle was naak, wat verwys na die egtheid en kwesbaarheid waarmee hulle geleef het – daar was geen geheime vir mekaar nie. Hulle was nie skaam nie, wat dui op die reinheid van hulle verhouding.
Ef. 5: 31 praat van die verbintenis (aankleef) en eenheid (een vlees) in hierdie ring en Paulus haal Genesis 2 aan: “Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word.”
Paulus vat dit ook verder in vers 33: “In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig.”
Maak dit prakties
- Hoe lyk ons eenheid, egtheid, kwesbaarheid en gemeenskap met mekaar?
- Man: My vrou, het ek jou lief soos jy liefgehê wil word?
- Vrou: My man, beleef jy dat ek jou respekteer?
- Is ons huwelik ‘n veilige hawe waar ons as maats kan groei, lewe en liefhê?
Gebed: Here, dankie vir die spesifieke lewensmaat wat U vir my gegee het, een saam met wie ek ten volle kan lewe en liefhê. Dankie ook dat ons ‘n gesonde intimiteitslewe kan hê, dat U vir ons die voorreg gee om liefde te kan maak. Baie dankie ook dat U saam met ons in die huwelik is en dat U ons help en lei om net die beste vir ons lewensmaats te wees. Amen
Malcolm en Estelle
Aangaande hierdie leesplan
Op ‘n egpaar se huweliksdag sê hulle “Ja”, beloof trou aan mekaar en is ringe uitgeruil as ‘n simbool van hierdie nuwe eenheid. Hierdie 6-dag Bybelplan gebruik die metafoor van die ring om sekere aspekte van die huwelik uit te lig. Elke dag is geskryf deur 'n ander huwelikspaar wat self in hierdie ring van liefde leef.
More
Ons bedank Doxa Deo vir die voorsiening van hierdie plan. Besoek: https://www.doxadeo.org/ vir meer inligting