Die Ring. 'n 6-Dag Leesplan Vir Huweliksmaats.Voorbeeld

Die Ring.  'n 6-Dag Leesplan Vir Huweliksmaats.

DAG 6 VAN 6

Ring van Getrouheid

Efesiërs 5:31-32 “Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente.”

In Efesiërs vergelyk Paulus die verwantskap tussen man en vrou met die verhouding tussen Christus en die kerk. Die verhouding is ‘n ewige verhouding – niks kan ons skei van die liefde van die Here nie. Die huwelik is ook so. Die huwelik is nie ‘n toetslopie nie, dit is 'n verbintenis tussen twee mense en niks behoort ons van mekaar se liefde te skei nie. As God die wet instel “jy mag nie egbreuk pleeg nie”, is dit omdat die huwelik die verhouding tussen ons en Hom reflekteer. 

“Jy mag nie egbreuk nie.” (Eksodus 20:14) 

Jesus sê in Matteus 5:17 dat Hy nie gekom het om die wet ongeldig te maak nie, maar om dit te vervul. 

God vergelyk ook in die Ou Testament Sy verhouding met die volk Israel met dié tussen 'n man en vrou. Daarom maak Hy stellings soos: “Ek haat egskeiding.” (Maleagi 2:16)

Jesus leer ons in Matteus 5:28 dat daar in die hart egbreuk gepleeg kan word. Die realiteit is, dat wanneer egbreuk gepleeg word, dit die mens se gees, siel en liggaam affekteer en dit is hoekom die Bybel ons so pertinent nie net op die sonde van die daad wys nie, maar ook op die gevolge. Die Bybel waarsku ons in 1 Korintiërs 6:18 dat enige sonde wat die mens doen buite sy liggaam is, maar dat seksuele losbandigheid ‘n sonde teen die liggaam is, want jou liggaam is die tempel van die Heilige Gees. In die huwelik is julle nou een vlees, so as daar buite-egtelike losbandigheid is, bring jy die sonde in jou huwelik in. Ons is nou heilig in Christus en nou leef ons ook heilig in ons huwelik.

Egbreuk en egskeiding kom al hoe meer in ons samelewing voor. Wat is God se opinie hieroor en hoe moet ons as Christene Sy Woord  in ons lewens toepas? Dit is die wil van God dat ons heilig sal leef en onsself sal onthou van die onsedelikheid van die wêreld. Hy is heilig en ons is nou in Hom ook heilig. Alhoewel God die vergunning gee vir egskeiding, waar egbreuk gepleeg is, is dit nog steeds Sy hart dat daar eerder vergifnis en versoening sal wees, soos in ons verhouding met Hom. 

God se liefde, genade en vergifnis is egter vrylik beskikbaar vir almal wat egbreuk gepleeg het of deur 'n egskeiding is. Jesus se genade en vergifnis is en bly groter as ons sondedaad en Hy veroordeel ons nie, maar roep ons tot bekering en om ‘n heilige lewe te lei, deur die genade van Jesus en onder die leiding van die Heilige Gees (Joh. 8:11; 1 Thess. 4:7). 


Maak dit prakties

  • Kies ek my huwelik bo enige ander?
  • Is ek bereid om Jesus te vertrou met my pyn én my genesing en herstel?
  • Kan ek kies om God se genade vir ons huwelik te aanvaar en toe te pas in ons lewe saam?


Gebed: Dankie Here, dat U ons eerste liefgehad het, nog voor ons kon kies of kon vra. Help my ook om my lewensmaat so lief te hê . Here met U krag en onverdiende guns sal ons ons ring nooit breek nie. Help my ook om altyd getrou te bly aan U en aan my lewensmaat. Amen. 

    

Johan en Thea

Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Die Ring.  'n 6-Dag Leesplan Vir Huweliksmaats.

Op ‘n egpaar se huweliksdag sê hulle “Ja”, beloof trou aan mekaar en is ringe uitgeruil as ‘n simbool van hierdie nuwe eenheid. Hierdie 6-dag Bybelplan gebruik die metafoor van die ring om sekere aspekte van die huwelik uit te lig. Elke dag is geskryf deur 'n ander huwelikspaar wat self in hierdie ring van liefde leef.

More

Ons bedank Doxa Deo vir die voorsiening van hierdie plan. Besoek: https://www.doxadeo.org/ vir meer inligting