Die Ring. 'n 6-Dag Leesplan Vir Huweliksmaats.Voorbeeld
Selflose Ring
EFESIËRS 5:22-27 NLV Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet julle, vroue, in alles elkeen aan julle eie man onderdanig wees. Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het om só die kerk aan God toe te wy nadat Hy die kerk met die water en deur die woord gereinig het en sodat Hy die kerk in al sy skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vlek of plooi of enige ander onsierlikheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik.”
1 Petrus 1:16 NLV “Hy het immers self gesê: “Wees heilig, want Ék is heilig!””
Alhoewel die duiwel die mooi van die huwelik wil kom misvorm, is hy in Christus reeds oorwin. In vandag se lewe kan die huwelik deur baie dinge bedreig word. Hierdie bedreiging kan verskeie vorme aanneem: Tyd, Tegnologie, Leë-nessindroom, Finansies, ens. Die grootste bedreiging is egter die “ANDER PERSOON”, maar hierdie “ANDER PERSOON” is nie net die aantreklike kollega by die werk, of die man of vrou by die gimnasium nie.
Nee, die “ANDER PERSOON” is soms eerder die “eie ek”. Hierdie “eie ek” wat nog nie die nuwe ware "ek" in Christus uitleef nie. (Sien Gal 2:20). Enige bedreiging vir die huwelik word hierin vervat: Die vleeslike EK.
- Ek wil aan die behoeftes van my vlees gehoorsaam wees,
- ek wil in my eie behoeftes voorsien,
- ek wil mag hȇ,
- ek wil doen wat ek wil,
- ek wil gaan waar ek wil,
- ek wil nie sukkel nie,
- ek wil nie veg vir wat reg is nie.
Ek wil, ek wil, ek wil....
Ek is jammer, maar dit gaan lankal nie meer oor wat JY wil nie, maar dit gaan oor Christus en oor jou lewe vir Hom. Christus self het in die tuin van Getsemane gebid: “Vader, nie MY WIL nie maar U WIL” (Sien Matt. 26). Ek is nou ‘n mede-erfgenaam van God, ‘n ambassadeur en daarom reflekteer ek Sy heiligheid, want ek is heilig in Hom.
Die antwoord lȇ in die Kruis en om jou lewe af te lȇ soos wat Christus SY lewe vir ons afgelȇ het. Jy moet nou verklaar dat dit nou nie meer jy is wat lewe nie, maar Christus wat deur jou lewe. Ek is verlos, versoen en vernuwe in Christus.
Maak dit prakties
- Wat bedreig ons huwelik NOU?
- Vra mekaar – beleef jy my as “EK”-gerig?
- Hoe kan jy gedurig kies om die ONS te prioritiseer?
Gebed: Here, help my om my EIE vlees, begeertes en wil af te lȇ, en om U wil te doen en my eggenoot belangriker te ag as myself. Here, dankie vir die nuwe mens wat ek nou in U is. Amen.
Pieter en Elsie
Aangaande hierdie leesplan
Op ‘n egpaar se huweliksdag sê hulle “Ja”, beloof trou aan mekaar en is ringe uitgeruil as ‘n simbool van hierdie nuwe eenheid. Hierdie 6-dag Bybelplan gebruik die metafoor van die ring om sekere aspekte van die huwelik uit te lig. Elke dag is geskryf deur 'n ander huwelikspaar wat self in hierdie ring van liefde leef.
More
Ons bedank Doxa Deo vir die voorsiening van hierdie plan. Besoek: https://www.doxadeo.org/ vir meer inligting