Die OfferandesVoorbeeld

Die Offerandes

DAG 2 VAN 8

DIE UITLEG VAN OFFERANDES – LEVÍTIKUS 1-5

Oor die volgende paar dae kyk ons nou vervolgens na die vyf offers soos dr A.H. Verster dit beskrywe.

DIE WYDINGSOFFERS

Die drie wydingsoffers weerspieël Christus hoofsaaklik as ’n “lieflike geur” aan die Here.

GAWES (Heb 5:1)

  1. Die Brandoffer (Levítikus 1)
  • Dit was ’n vuuroffer van lieflike geur aan die Here (vv. 9, 13, 17). In die “lieflike geur”-offers het die persoon wat die offer gebring het, gekom vir aanneming as ’n aanbidder en nie as een wat sy sondeskuld kom betaal nie.

Die brandoffer van lieflike geur wys op Christus (Ef 5:2), nie as die Een wat ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra het nie, maar as volmaakte Mens wat Homself aan God geoffer het sodat ons op grond van ons vereenselwiging met Hom, tot die Vader as aanbidder kan kom en ontvang word (Ef 2:18; 3:12).

  • Dit was ’n vuuroffer van welgevalle voor die aangesig van die Here (v. 3). Met ander woorde, dit is aan God gebring om die aanvaarding van die persoon wat die offer gebring het te verseker, “sodat hy welgevalle (aanvaarding) voor die aangesig van die HERE kan vind” (vv. 3, 4).

Christus as die Brandoffer en as die mens se verteenwoordiger het die mens se plek geneem, waar Hy die mens gevind het, d.w.s. onder die wet; en daar, in gehoorsaamheid aan die wet, het Hy Homself geoffer of aangebied vir aanneming by die Vader. Die mens onder die wet, en wat dit nie kon hou nie (Rom 8:3), kon homself nie aan God offer om deur God ontvang te word nie, maar in Christus is God “versoen” of tevrede gestel dat sonde gestraf is en kan Hy ons as volmaakte mense ontvang.

  • Dit was ’n vuuroffer van lewe geoffer op die altaar (v. 5). Die brandoffer moes lewendig en sonder gebrek wees (v. 3).

Christus het as die Brandoffer, in die gestalte van die mens gekom om die wil van God ten opsigte van die mens te doen (Heb 10:5-7), maar sonder sonde (Joh 8:46; 2 Kor 5:21; Heb 4:15). In sy volkome geregtigheid het Christus elke vereiste van God nagekom en “Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer” (Heb 9:14).

Die apostel Paulus skrywe: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens” (Rom 12:1). Met Christus se lewe in ons (Gal 2:20) word ons ook in staat gestel om onsself as ’n lewende offer sonder gebrek voor God te stel.

  • Dit was ’n vuuroffer wat geheel en al op die altaar verbrand moes word (v. 9). 

In die brandoffer sien ons Christus se volkome oorgawe van Homself in alles aan die Vader. Die kop wys op sy gedagtewêreld; die vet spreek van sy algemene gesondheid en lewenskragtigheid (Deut 32:15; Ps 92:15); die binnegoed praat van sy emosionele toestand; en die pote stel sy lewenswandel en gedrag voor. Alles wat Jesus in woord en in daad gedoen het, het Hy vir God gedoen (Joh 4:34; 5:36; 7:16; 8:28; 14:10) en nooit sy eie belange of begeertes nagestreef nie.

Die Here verwag ook van ons as sy kinders dat ons Hom met ons hele verstand en met ons hele lewenskrag moet dien; dat ons Hom in liefde en in ons hele lewenswandel sal dien (Matt 22:37). Weer eens kan ons dit alleen vermag deur Christus. Deur die krag van Sy inwonende lewe is ons daartoe in staat.

As ons nou mag saamvat, kan ons sê dat die persoon in sy brandoffer, dit is in Christus, na God kom as aanbidder wat homself tot tevredenheid van God stel vir aanvaarding omdat hy hom volkome aan God hertoegewy het en so die wet van God vervul het wat sê: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag” (Mark 12:30).

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Die Offerandes

Wanneer ons die offerandes van die Ou Testament soos opgeteken in Levítikus 1-7 bestudeer, sal dit goed wees as ons onsself daaraan herinner dat daar deur die OFFERANDES ’n weg tot God is – Christus is ons offerlam. Die offerandes was ’n kenmerk van die godsdiens van die volk Israel wat binne die raamwerk van die openbaring by die berg Sinai geskied het.

More

Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/