Die OfferandesVoorbeeld

Die Offerandes

DAG 3 VAN 8

2. Die Spysoffer (Levítikus 2)

Ons wend ons nou tweedens tot die spysoffer. Hierdie offer is die enigste een van die vyf wat bloedloos is en wys gevolglik nie op Christus se dood nie, maar wel op sy volmaakte lewe en karakter ten tyde van sy aardse omwandelinge. Die spysoffer spreek dan van Christus wat Homself, as ons spys, aan God aanbied.

  • Dit het bestaan uit fynmeel (v. 7)

In die fynmeel is daar geen ongelykheid nie; al die meel is ewe fyn gemaal. Dit spreek van die volmaakte, gebalanseerde menslikheid van die Here Jesus. Hy was “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” (Heb 7:26). Daarom kon die mense met reg van Hom getuig: “Hy het alles goed gedoen” (Mark 7:37).

As sondige mense kan dit nie van ons gesê word nie, maar ons is wel “tot alles in staat deur Christus wat my (ons) krag gee . . . want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil 4:13; 2:13).

  • Olie is daarop gegiet (v. 1)

Fynmeel, het ons reeds gesê, wys op die Heiland se volmaakte mensheid. Die olie wat op die fynmeel gegiet moes word, spreek dan van die Heilige Gees waarmee Jesus gesalf is toe Hy Homself, as die mens se spys, aan God in sy openbare bediening aangebied het (Matt 3:16). So lees ons ook dat “God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees . . .” (Hand 10:38).

“Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur” (Joh 17:18). Om te kan leef en doen wat die Meester gedoen het, moet ons ook met die Heilige Gees gedoop en vervul wees. Om hierdie rede het Jesus sy dissipels dan ook bevel gegee: “Julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk 24:49).

  • Wierook moes daarby gevoeg word (v. 1)

Wierook is ’n soort gom met ’n soet reuk. Die volle geur word eers verkry wanneer die wierook aan die brand gesteek word.

Dit verteenwoordig Christus se lewensverhouding met sy Vader. Aangaande dié verhouding sê Hy: “Ek (doen) altyd . . . wat Hom welgevallig is” (Joh 8:29). Weer sê Jesus: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring” (Joh 4:34). Alles wat Christus dus gesê en gedoen het, het opgegaan as ’n “offer aan God tot ’n lieflike geur” (Ef 5:2).

  • Sout moes bygevoeg word (v. 13)

Sout is ’n bewaarmiddel teen verrotting. In die Skrif word sout in verband met spraak gebruik: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel . . .” (Kol 4:6).

Die Heiland se woorde was altyd vol genade en heil vir die siel wat dit gehoor en aangeneem het. Daarom kon Jesus ook sê: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe” (Joh 6:63). Die aanvaarding van Christus se Woord sal die verderwing van sonde in die lewe van die gelowige teenwerk; hom daarvan red en bewaar (Ps 119:9, 11; Spr 4:20-22; 16:20; 7:24, 25; 1 Pet 1:23). As gevolg hiervan skryf Paulus in Kolossense 3:16: “Laat die woord van Christus ryklik in julle woon . . .” sodat ons op ons beurt ook weer woorde van heil mag spreek en saam met Paulus kan sê: “Ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo . . .” (Rom 1:16).

  • Daar was geen suurdeeg of heuning in die spysoffer nie (v. 11)

Suurdeeg op sigself veroorsaak en bring verderwing en is ’n simbool van ’n valse en verkeerde leer (Matt 16:6, 12). Met ander woorde, dit is ’n simbool van die vlees en sy ongeregtigheid. Nie alleen is dit ’n simbool van slegte dade nie, maar ook van die inherente sondigheid van die vlees: “die sonde wat in my woon . . . wat in my lede is . . . in die vlees” (Rom 7:20, 23; 8:3).

Die uitsluiting van suurdeeg uit die spysoffer is nie alleen ’n getuienis dat Christus sondeloos in woord en daad was nie, maar dat Hy geen sonde in sy menslike natuur gehad het nie (2 Kor 5:21; 1 Pet 2:22).

Heuning word hier saam met suurdeeg genoem en spreek dus ook van sonde, maar net in ’n ander vorm. As suurdeeg op die daadsondes wys, dan spreek heuning van die natuurlike begeertes – “liefhebbers van genot” (2 Tim 3:4).

Een of ander tyd sal heuning suur word. So sal “die genot van sonde” (Heb 11:25) ook later verander in die suur van die lewe.

  • ’n Gedeelte van die spysoffer moes geëet word (Lev 6:14-16)

Nadat Jesus Homself as die volmaakte offer aan die kruis gegee het, het Hy die spys van die gelowiges geword (Joh 6:51,53). Wat is vlees? Dit is die stoflike kant van persoonlikheid. Wat is bloed? Dit is weer die element van lewe in die liggaam. Vlees sonder bloed konstitueer geen persoonlikheid nie, maar vlees met bloed of lewe konstitueer persoonlikheid. Dus, om die vlees en bloed van die Here Jesus te eet en te drink, beteken eenvoudig om Sy persoonlikheid en lewe deur geloofstoe-ëiening en wedergeboorte deelagtig te word, want “dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie” (1 Joh 5:11, 12).

Ons moet voortdurend en elke dag die Here Jesus en sy Woord bepeins (Kol 3:1-4) en so toelaat dat die Heilige Gees Christus se natuur en gesindheid in ons tot stand kan bring, sodat “Christus in julle (ons) ’n gestalte verkry” (Gal 4:19) en ons “tot die mate van die volle grootte van Christus” (Ef 4:13) kan kom.

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Die Offerandes

Wanneer ons die offerandes van die Ou Testament soos opgeteken in Levítikus 1-7 bestudeer, sal dit goed wees as ons onsself daaraan herinner dat daar deur die OFFERANDES ’n weg tot God is – Christus is ons offerlam. Die offerandes was ’n kenmerk van die godsdiens van die volk Israel wat binne die raamwerk van die openbaring by die berg Sinai geskied het.

More

Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/