Die OfferandesVoorbeeld

Die Offerandes

DAG 6 VAN 8

2. DIE BOETEDOENINGSOFFERS

In die twee oorblywende boetedoeningsoffers weerspieël Christus die aakligheid en die straf van sonde. 

OFFERS (Heb 5:1)

Die Sondoffer (Lev 4:1-5, 13). 

In die drie wydingsoffers is alles vir God; in die twee boetedoeningsoffers is alles vir die mens. In die sondoffer word Christus getipeer as die Een wat Homself as ’n offer aan God vir die mens gee.

  • Die sondoffer was nie ’n lieflikegeur-offer nie. Die lieflikegeur-offers was vir aanneming; die sondoffer was vir boetedoening. In die lieflikegeur-offers kom die offeraar as ’n aanbidder om in sy offer, wat homself verteenwoordig, aan die Here iets soets en aangenaams te gee. In die boetedoeningsoffer kom die offeraar as ’n skuldige sondaar om in sy offer, wat homself voorstel, God se straf te ontvang.

In die vuuroffers is die offerdier op die altaar in die voorhof verbrand en toon God se aanneming van, en tevredenheid, met die offeraar. Maar in die sondoffer moes die offer buite die voorhof van die tabernakel en die laer verbrand word. Dit het getoon dat die offeraar in sy offer die oordeel van God verduur het.

Met ander woorde, in die vuuroffers was Christus die Een wat “Hom vir ons oorgegee het as ’n gawe en offer aan God tot ’n lieflike geur” (Ef 5:2); in die sondoffer het Hy “Homself gegee . . . vir ons sondes . . . want Hy het Hom . . . sonde vir ons gemaak” (Gal 1:4; 2 Kor 5:21).

Tog moes die sondoffer “sonder gebrek” gewees het (Lev 4:3). Só was Christus sonder gebrek, anders kon Hy nie die sondeskuld van ander gedra het nie, want anders moes Hyself ’n versoening vir sy ongeregtigheid nodig gehad het. Hy is deur God, die mens en die duiwel getoets, wat Hom as “die Heilige van God” bewys het (Mark 1:24).

  • Die sondoffer was ’n offer vir sonde en nie een vir oortreding nie. Die onderskeid tussen die sond- en skuldoffers is dit: Die sondoffer is enersyds vir wat ons van nature is, sonde in ons, ons sondige natuur. Die skuldoffer is andersyds vir ons daadsondes, die vrug van ons sondige natuur. As ons alles met een gedagte kan opsom, kan ons tereg sê dat die sondoffer hoofsaaklik met versoening te make het.
  • Die sondoffer moes buite die laer verbrand word. Al die ander offers is op die altaar in die voorhof van die tabernakel verbrand. Die sondoffer, daarenteen, is geheel en al buite die laer verbrand (Lev 4:11, 12). Dit getuig van hoe volkome dié offer met sonde vereenselwig is. As sondaarmens was ons ook volkome van God en sy gemeenskap verwyder (Ef 2:12, 13). Só moes Jesus ook, toe Hy vir ons sonde geword het (2 Kor 5:21), buite Jerusalem ly (Heb 13:12).

Soos die sondoffer buite die laer tot as verbrand is, só het God se vuur van verterende oordeel teen sonde op Christus neergekom (Ps 88:8, 17; 39:11b). Soos die melaatse weens sy toestand na buite die laer verban is (Lev 13:45, 46), weg van al sy geliefdes en hul gemeenskap, só het Christus se toestand, toe Hy vir ons sonde geword het (2 Kor 5:21), Hom ook van die soete gemeenskap met sy Vader geskei. Juis hierin was sy foltering en angs, dat Hy, wat nooit geweet of gesmaak het wat dit beteken om ’n enkele gedagte te koester buite die gemeenskap met sy Vader nie, ’n tyd lank geheel en al van sy Vader se gemeenskap afgesny sal wees. Sy eie woorde, toe Hy vir ons aan die kruis sonde geword het, het sy angs en lyding weergegee toe Hy uitgeroep het: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt 27:46; Ps 88:15).

Hy het ons plek geneem sodat ons sy plek kan neem: Hy is uitgewerp buite die gemeenskap met God, sodat ons daar ingebring kan word (Ef 2:13).

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Die Offerandes

Wanneer ons die offerandes van die Ou Testament soos opgeteken in Levítikus 1-7 bestudeer, sal dit goed wees as ons onsself daaraan herinner dat daar deur die OFFERANDES ’n weg tot God is – Christus is ons offerlam. Die offerandes was ’n kenmerk van die godsdiens van die volk Israel wat binne die raamwerk van die openbaring by die berg Sinai geskied het.

More

Ons wil graag Raymond Lombard Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.raymondlombard.com/