Maak Tyd Om Te RusVoorbeeld

Maak Tyd Om Te Rus

DAG 2 VAN 5

Oordink God se Woord.

Hoe meer dikwels jy die Bybel lees en hoe meer jy dit oordink, hoe meer sal dit jou verbaas. — Charles Spurgeon

Baie volgelinge van Christus verstaan nie wat bepeinsing eintlik beteken nie. Wanneer ons oor iets peins, fokus ons eintlik net ons gedagtes daarop. Kom ons lees Pastoor Rick Warren se beskrywing, om te verstaan wat dit beteken om God se woord te bepeins. Hy sê:  "Dis verbasend, maar as jy weet hoe om jou oor iets te bekommer, weet jy alreeds hoe om God se Woord te bepeins. Bekommernis vind plaas wanneer jy oor en oor nadink oor 'n negatiewe gedagte. Wanneer jy oor en oor dink oor 'n Skrifgedeelte, noem ons dit bepeinsing." 

Die Bybel maak meer as twintig keer melding van bepeinsing en vra ons om God se Woord te oordink. Dit is voordelig om hierdie aktiwiteit deel te maak van ons daaglikse tyd saam met God, want dit gee ons gedagtes en emosies rus, en laat ons geestelik groei.

Wanneer ons daagliks tyd daaraan wy om die Bybel te lees, kan ons dieper delf in die Skrifgedeeltes en 'n gesprek met God begin. Om te verstaan hoe om 'n vers of twee te oordink, laat ons Efesiërs 4:31-32 ontleed, wat sê:  "Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het." 

Kom ons lees dit weer en vra God:

Is ek verbitterd?

Is ek 'n woedende persoon?


Is my woorde kras?


Het ek 'n sagte hart?


Vergeef ek ander maklik?
 

Ons luister dan en wag vir die kragtige, dog sagte stem van God. Dis selde hoorbaar, maar ons sal weet wat Hy vir ons sê. Ons kan hierdie Skrifgedeeltes saam met ons deur die dag dra om ons bewus te maak van enige bitterheid, kwade gevoelens, krasheid, ongenaakbaarheid of onvergewensgesindheid wat ons gedagtes wil gevange neem.

Dis hoe 'n mens God se Woord oordink. 

Die waarhede van die Skrif sink diep in ons siele wanneer ons God se Woord oordink. Bepeinsing bied 'n totaal nuwe vlak van rus, want ons konsentreer die energie van ons denke daarop om oor God se Woord te dink en nie ons gedagtes te oorweldig met die bekommernisse van die wêreld nie. Nie net dit nie, maar ons het die mag om hierdie lewensveranderende woorde van God in ons lewens toe te pas. Wanneer ons hierdie moeite doen, kan ons nie anders as om alles te word wat God wil hê ons moet wees nie. 

Oordink dit 

  • Kies 'n Skrifgedeelte uit vandag se oordenking, of 'n ander een van jou keuse, en oordink dit. Terwyl jy dit lees, vra vir God om jou te wys op watter gebied jy aan Hom gehoorsaam is en waar jy veranderinge moet maak sodat jy geestelik kan groei. Laat toe dat hierdie nuwe ontdekking jou gedagtes die hele dag in beslag neem.
  • Skryf enige openbaring neer wat God aan jou gegee het tydens vandag se Skriflesing en oordenking.
Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Maak Tyd Om Te Rus

Werkverslawing en om gedurig besig te wees, word dikwels in ons wêreld aangeprys, wat rus dan 'n uitdaging maak. Om ons rolle en planne effektief uit te voer, moet ons rus of ons sal niks oorhê om geliefdes te ondersteun en doelwitte te bereik nie. Oor die volgende vyf dae gaan ons leer om te rus en hoe om dit op ons lewens toe te pas.

More

Hierdie oorspronklike Leesplan is geskep en verskaf deur YouVersion.