Maak Tyd Om Te RusVoorbeeld

Maak Tyd Om Te Rus

DAG 4 VAN 5

Distansieer Jouself Van Afleidings.

As jy jouself nie met tye van die wêreld rondom jou onttrek nie, sal die wêreld jou aftrek. — Erwin McManus

Een van die definisies van rus is om vry te wees van angs of steurnisse. In hierdie tyd in ons lewens kan ons maklik dinge vind wat ons rus kan versteur en angs kan veroorsaak. Hulle kan miskien aanvanklik aangenaam wees en voel asof hulle ons verkwik, maar uiteindelik kry ons nie genoeg ware rus nie.

Ontelbare mense praat oor die verskillende maniere waarop ons van ons hoogs-gekonnekteerde wêreld kan onttrek. Daar is boeke, artikels, potgooie en boodskappe wat vir ons drie stappe gee om nie oorweldig te word deur dinge wat ons aandag steel nie. Tog word nie almal se aandag deur dieselfde dinge afgelei nie. Wat die een persoon se aandag aflei, is nie 'n probleem vir 'n ander nie.

Om van die afleidings in ons lewens weg te kom, moet ons 'n paar dinge oorweeg. Eerstens, moet ons weet wat ons aandag aflei. Daardie dinge wat ons wegtrek van die belangrike, omdat hulle óf dringend voel, óf net lekker is om te geniet. Tweedens, moet ons gewillig wees om ons roetines aan te pas, sodat die belangrikste mense in ons lewens nie minder belangrik voel nie. 

Ons moet 'n paar grense stel vir die dinge wat ons vrede en rus steel. Nadat ons daardie sin gelees het, weet ons almal presies wat dit is. In plaas daarvan om afleidings toe te laat om ons van rus en die belangrikste mense in ons lewens te ontneem, moet ons miskien …

  • ... nie ons rekenaar oopmaak om te werk terwyl ons kinders wakker is nie.  
  • ... kies om op die goeie te fokus, in plaas daarvan om deur die bekommernisse van die wêreld afgelei te word.  
  • ... 'n spesifieke luitoon vir ons familielede stel en die res na die stempos laat oorgaan.  
  • ... kies om nie TV te kyk voor die naweek nie.  
  • ... ons planne vir die toekoms opsy sit, sodat ons in die hede kan leef.  
  • ... tydsbeperkinge vasstel vir sekere webwerwe, programme of videospeletjies.  

As ons voortdurend angstig en verontrus voel, moet ons die dinge wat veroorsaak dat ons so voel, verminder of selfs uitskakel. Dit gaan nie maklik wees nie. Enigiets wat die moeite werd is om te hê, vereis werk en opoffering. Laat ons nie weer 'n dag laat verbygaan en toelaat dat die afleidings van hierdie wêreld ons weerhou van die beste rus wat God vir ons het nie.

Oordink dit 

  • Wat is die grootste ding wat jou aandag aflei van ware rus? 
  • Watter stappe moet jy vandag neem om hierdie afleidings in jou lewe te verwyder of te beperk? 
  • Skryf enige openbaringe neer wat God tot jou spreek deur vandag se Skriflesing of oordenking.
Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Maak Tyd Om Te Rus

Werkverslawing en om gedurig besig te wees, word dikwels in ons wêreld aangeprys, wat rus dan 'n uitdaging maak. Om ons rolle en planne effektief uit te voer, moet ons rus of ons sal niks oorhê om geliefdes te ondersteun en doelwitte te bereik nie. Oor die volgende vyf dae gaan ons leer om te rus en hoe om dit op ons lewens toe te pas.

More

Hierdie oorspronklike Leesplan is geskep en verskaf deur YouVersion.