Verlore Tot GevindVoorbeeld

Verlore Tot Gevind

DAG 2 VAN 5

LEKKER IS MAAR ‘N VINGER LANK

Lukas 15:12-17   Johannes 10:10

Net soos die jongste seun in Jesus se verhaal, het ek ook uit eiewysheid gedink om my moeder se huis op 14-jarige ouderdom te verlaat. Ek het gedink ek is volwasse genoeg om die lewe op my manier te doen. Ek het, soos die verlore seun, ook uitspattig en seksueel-immoreel gelewe. Alles het opwindend en reg gevoel. Maar dit was alles van korte duur.

Al die geld, dwelms en partytjies, in die wêreld, sal nooit kan opmaak vir die leemte wat ons het, wat God alleen kan vul nie. Te veel mense dink die antwoord op die leemte is die gejaag na nog huise, karre, oorsese vakansies, beroepsbevordering, beleggings, en nog meer! Maar ons het nou al oor en oor gesien hoe daardie goed net ‘n gejaag na wind is, hoe tydelik dit is.

Daarom moet ons met ‘n daaglikse bewustheid lewe dat ons almal maklik vatbaar is vir ‘n varkhok-ervaring, as ons nie aan God vashou nie. Die meeste van die tyd bedireg ons begeertes ons. Dit laat ons glo ons het God nie nodig nie. Maar dit is slegs by God, en deur Hom, wat ons lewens vir meer kan tel; waar ons lewens ewigheidswaarde het en waar ons die lewe in oorvloed kan ervaar, sonder om dit met tydelike materiële goed te probeer vul.

Ek is dankbaar dat lekker net ‘n vinger lank was vir my. Ek is dankbaar dat ek in ‘n spreekwoordelike varkhok beland het. Want as dit nie was dat ek vir 5 jaar tronk toe gestuur was nie, sou ek dalk nie tot my sinne gekom het nie; sou ek dalk nie besef het hoe ek die soeke na God op ongesonde maniere probeer vul het nie. Dit was Augustine van Hippo wat gesê het: “Our hearts are restless, until they can find rest in you.” Die seun in Jesus se verhaal kon eers die pad huis toe bedink nadat hy in die varkhok gesit het. Sy rustelose gejaag na die lekker van die lewe was toe verby. Ek is ook dankbaar dat hy in ‘n varkhok beland het. Want dit was daar dat hy ook tot sy sinne gekom het en besef het wat hy opgegee het by sy vader se huis.

Soms is ‘n varkhok presies wat ons nodig het om tot ons sinne te kom. Want God ontmoet ons ook daar. Hy wil jou terughê by die huis. Hy wil jou laat besef dat daar net een plek is waar liefde in oorvloed is: by sy huis, aan sy tafel.

Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Verlore Tot Gevind

‘n Kerndeel van die Christelike geloof is die erkenning dat ons verlore is sonder God. Sonder sy genade is ons verlore. Sonder sy liefde is ons verlore. Nogtans reik Hy eerste na ons uit en vat ons vanuit ons verlore plekke tot aan sy tafel, vir ‘n feesmaal.

More

Ons wil graag Ivor Swartz bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780796322180