Verlore Tot GevindVoorbeeld

Verlore Tot Gevind

DAG 3 VAN 5

NET GOD VERANDER HARTE

Romeine 12:17-21  Esegiël 36:26-27

Op Sondagaand 3 September 2000 staan ek en ‘n vriend in ‘n dowwe beligte straat, met ons vuurwapens op my ouer broer, Deon, gerig. Ons het hom daardie aand geskiet en hy’s die Woensdag in die hospitaal oorlede. Na al die jare se fisiese en emosionele mishandeling wat hy aan my, my ma, en jonger broer gepleeg het, was my hart verhard teenoor hom Elke koeël was gerig op die monster wat ons lewens hel gemaak het.

Ons kan maklik God speel oor ande, veral wanneer ons te na gekom is en diep seergemaak is. Om wraak te neem is om self God te speel. Dis om te sê jy vertrou nie dat God reg en geregtigheid sal laat geskied nie, of ten minste nie soos jy dit wil hê nie. Mense se honger na wraak kan ook baie vinnig van hulle ‘n slaaf van hul omstandighede maak. Dit gebeur gewoonlik wanneer ons nie ‘n proses van vergifnis en hartsverandering begin nie. Ons soek dikwels wraak omdat ons nie bereid is om te laat gaan van dit wat met ons gebeur het nie.

Ons lewe in ‘n kultuur wat sê, “elke hond kry sy dag”. ‘n Kultuur waar kwaad-met-kwaad-vergeld genormaliseer is. En daarom verwag ons dat die mense wie ons leed aangedoen het, hulle dag moet kry; wanneer die toorn van God hulle sal tref, en hulle sal boet vir hulle onregverdige optrede. 

Ek het 5 jaar in die gevangenis deurgebring vir my dade. Ek het gerehabiliteer en getransformeer, volgens menslike standaarde. Ek het selfs matriek geskryf in die tronk. Maar ten spyte van al dié mooi goed, is dit net God alleen wat my tot opregte berou vir my sondes kon bring; wat my deur ‘n hartsverandering kon laat gaan; wat my op die vergifnispad kon sit. Geen wraak, geen oog vir ‘n oog, of elke hond wat sy dag kry nie — net God en sy liefde!

Ek wonder hoe dit sal lyk wanneer ons minder wil sien hoe elke hond sy dag kry, en meer sal bid vir God se vergifnis en hartveranderende liefde om tot die hardste van harte deur te dring. En, as Hy dit vir my gedoen het, kan Hy dit vir jou doen, of vir iemand vir wie jy bid!

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Verlore Tot Gevind

‘n Kerndeel van die Christelike geloof is die erkenning dat ons verlore is sonder God. Sonder sy genade is ons verlore. Sonder sy liefde is ons verlore. Nogtans reik Hy eerste na ons uit en vat ons vanuit ons verlore plekke tot aan sy tafel, vir ‘n feesmaal.

More

Ons wil graag Ivor Swartz bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780796322180