Verlore Tot GevindVoorbeeld

Verlore Tot Gevind

DAG 4 VAN 5

GAATJIE-KINDERS WORD NIE GEKIES NIE

Johannes 1:45-50  Mattheus 9:12-13

“Die Gaatjie”, is die naam van die area in Grabouw waar ek grootgeword het. Dit was ‘n area bekend vir armoede, afwesige pa’s en rondloperhonde — ‘n  gemeenskapsoos vele ander hier in Suid Afrika, waar brood en hoop ewe skaars is. Dit was moeilik om te glo dat enigiets goed uit die Gaatjie sou kom. Dis steeds vir mense moeilik om te glo. Dieselfde ongeloof was uitgespreek oor Nasaret, waar Jesus vandaan gekom het.

Dis maklik om mense te oordeel en af te skryf oor waar hulle vandaan kom, eerder as om te probeer raaksien wie God hulle gemaak het om te wees. Jy hoor die naam Nasaret, of Gaatjie, of anderkant die treinspoor, of Kaapse Vlakte, of Boksburg, en allerhande vooropgestelde prentjies kom by jou op. Maar Jesus nooi ons juis om by Hom aan te sluit en verhoudings te gaan bou, te gaan bedien, liefde te gaan bewys, op plekke waar ander nie bereid is om te gaan nie. Dít is waar Hy die meeste van sy bedieningstyd deurgebring het — tussen die randfigure, nie tussen die mense van die “suburbs” nie.

Op laerskool het ek een jaar probeer om by rugby-proewe in te kom. Dit was geweldig teleurstellend toe ek nié gekies was om op die veld te draf nie. Ek het die onderwyser gaan vra hoekom ek nie gekies was nie, en sy presiese woorde aan my was: “Gaatjie-kinders word mos nie gekies nie”. Dis soos om te sê uit Nasaret kan niks goed kom nie. Die onderwyser het in sy kop alreeds besluit hoe Gaatjie-kinders se stories lyk en sal uitdraai.

Ek was vir lank skaam om te erken dat ek ‘n Gaatjie-kind is. Jesus wil ons verlos van ons skaamte oor ons verlede. Hy wil ons laat glo dat waar jy vandaan kom nie bepaal waarheen jy op pad is nie. Sy eie aardse poskode was ‘n plek wat nooit vir beste dorp in die land in aanraking sou kom nie. Maar deur die hele Bybel sien ons hoe God dikwels die plekke en mense kies wat nie volgens wêreldstandaard gekies sou word nie.

Natanael het Nasaret afgemaak as ‘n plek van niks-goed nie tot hy die Messias persoonlik ontmoet het. Mense kan jou en jou verlede afmaak as niks-goed nie, tot hulle beleef wat God in jou en deur jou lewe doen — selfs vanuit die plekke waar die Gaatjie-stories is.

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Verlore Tot Gevind

‘n Kerndeel van die Christelike geloof is die erkenning dat ons verlore is sonder God. Sonder sy genade is ons verlore. Sonder sy liefde is ons verlore. Nogtans reik Hy eerste na ons uit en vat ons vanuit ons verlore plekke tot aan sy tafel, vir ‘n feesmaal.

More

Ons wil graag Ivor Swartz bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief:  https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780796322180